Hartebeestloop

Hartebeestloop
Auction 2012

Index  |  Overview  |  Newsletter | General  | Auction PDF`s | Videos | Map |  All Auctions
Maart 2012


Beste medeboere & vriende

Dit is net ongelooflik hoe goed die vleisbedryf sy deelnemers behandel het oor die afgelope paar jare. 2011 was ‘n ‘Bumper” jaar – of jy nou bees, skaap, bok of wild geboer het, dit speel geen rol nie. Die aanvraag was groot, pryse was oor die algemeen goed en daar was ‘n lewendige entoesiasme onder die boerdery gemeenskappe. In Namibië waar die landbou so ‘n groot rol speel, het hierdie entoesiasme deurgevloei na vele ander sektore en is dit sommer lekker in Namibië!


Op Hartebeestloop het al hierdie goeie nuus gemaak dat ons ook gees vang. Op die koop toe word die voorspellings toe waar van laat somer se goeie reëns en dit lyk baie goed by ons. Die Kalahari is oortrek met opslag, suurgras en polle. Die Bonsmaras staan sterk in die geweste en met hierdie reën is daar geen keer aan die boere se belangstelling in vleisbeeste, veral die Bonsmara.

Op Hartebeestloop wil ons ‘n groot gebeurtenis maak van die 5de Produksie Veiling. Ons het 127 geregistreerde bulle vanuit die Kalahari duineveld, die klipperige, suidwestelike gedeelte (Dassiesfontein) en vanaf die grasvelde van Omitara (Korasieplaas) op Hartebeestloop versamel. Dit is omtrent ‘n gesig! Daar is min dinge in die lewe wat die mooi van ‘n rooi bees teen die hange van die sandduine kan klop. Daar het ‘n kolossale hoeveelheid tyd, moeite, beplanning en geld in die teling van die veilingsbulle gegaan. Die beste 50 gaan na die veiling op Donderdag 24 Mei 2012. Hulle is die room van Hartebeestloop teling en ek ken elkeen van hulle by naam, nommer, stamboom en prestasie.

Daar is werklik ‘n bul vir elke boer, elke omgewing en elke produksiestelsel. Daar is ‘n sterk aanbieding van die tipiese Hartebeestloop “All Rounder” bulle, so ook bulle vir die teel van osse, speenkalwers, vervangingsverse, terminale bulle en ook baie goeie kombinasie bulle. Elkeen van hierdie bulle is ‘n diamant in sy eie reg en daarom vorm diamante ‘n integrale deel van die Hartebeestloop “logo”.

Daar is ook die bulle wat as potensiële stoetvaars geklassifiseer is. Dit bly maar elke teler se droom om sulke bulle te teel. Ek is elke keer van nuuts af gemotiveerd as ek hierdie bulle sien. Hulle is die room van die Bonsmara ras. Hierdie jaar bied ons ook 4 jong potensiële stoetvaars aan wat self in die Hartebeestloop kudde gebruik is. Die bulle het klaar hul merk gemaak en bied gemoedsrus aan die koper. Dit is tradisie op Hartebeestloop om jaarliks ook 2 van ons beproefde stoetvaars aan te bied. Kom kyk gerus na die 2 bulle en sien hoe lyk donkie-jare se beproefde teling in ‘n dier!

Daar is sekere goed wat uniek is aan elke veiling. So ook probeer ons jaarliks iets uniek na die Hartebeestloop veiling bring. Baie boere wil graag ‘n Hartebeestloop bul besit maar kon vir verskeie redes tot nou dit nie doen nie. Ons voorneme vir die 2012 veiling is “ ’n Hartebeestloop veilingsbul vir elke boer”. Uitstekende terme is beding met Standard Bank en Agra om finansieringskemas in plek te stel om boere te help om die genetika te bekom wat hul graag wil hê. Ons het uit ons pad gegaan om hierdie voorneme in ‘n werkbare vorm om te sit om voornemende kopers te help.

Op Hartebeestloop is ons bederf deur die kwaliteit gasverkopers wat mee maak aan die veiling. Hierdie manne en vroue is bekende telers met ‘n geskiedenis van uitstaande Bonsmara diere teel en ‘n passie vir die bedryf. Dit is mos ‘n feit dat die vereistes wat Hartebeestloop aan die telers en diere stel wat op die veiling kom, die heel strengste is van alle Namibiese veilings. Dit moet mos aan die voornemende koper gemoedsrus gee! Hierdie jaar bring die manne weer top diere na die veiling en dit gee goeie genetiese variasie.

Die veiling word weereens voorafgegaan met ‘n Boeredag vir almal. Die bekende weidingskundige Riaan Dames gaan daar wees en die sessies gaan so prakties as moontlik wees. Na vele navrae is besluit om die boere te wys en te leer wat die speenkalf koper en voerkraal soek in die ideale kalf. Ons almal beoefen tot ‘n mate ‘n speenkalf produksiestelsel en kennis om die beste kalf te teel en die hoogste prys te kry, is van groot ekonomiese voordeel. Kom leer saam met ons! Die namiddag kyk en praat ons net bulle. Die bul manne is almal daar en so ook die bulle. Kom hoor wat sê hulle en gee ook jou opinie. Dit is belangrik vir ons!

Dit sal baie lekker wees om jou te ontvang op Hartebeestloop by die Boeredag (23 Mei) en die Veiling (24 Mei).

Vriendelike groete


Joggie Briedenhann & Nico Visser


Ons gebruik tekens op die foto`s <br>om aan te toon waar die bulle groot geword het.
Ons gebruik tekens op die foto`s
om aan te toon waar die bulle groot geword het.
Tekens wat ons gebruik op veilingsbulfoto's:

Daar is driehoekies wat ons gebruik om aan te toon wanneer 'n bul in die klip (klipteken) of op gras en sand (grasteken) groot geword het. Dit is nou maklik vir die leser om op foto's te sien wat aangaan.


Back to Top
Facebook  Contact us | Copyright 2012, All rights reserved | Sitemap