Publication selected in the Archive of 2020: Maak Bonsmara deel van jou koeikudde | Date: August 2020 |
Die Bonsmara is primêr ‘n moederlyn ras.
Watter moeder eienskappe is belangrik?In die wetenskaplike ontwikkeling van die Bonsmara is daar groot klem gelê op moedereienskappe wat noodsaaklik is vir optimale reproduksie en produksie onder veldtoestande. Die klem is op die woord “optimaal” wat verwys na produksie/hektaar of wins/hektaar.
maksimaal?Wanneer verwys word na “maksimaal” is dit gewoonlik maksimale produksie van die dier en is die fokus op die dier se prestasie. In Namibiese veldweidingtoestande, is enige produksiesisteem wat baseer is op dier prestasie/hektaar of maksimale opbrengs, gewoonlik nie volhoubaar winsgewind nie.
Bonsmara - die markleierDie Bonsmara se ontwikkeling het nie gestop toe dit amptelik as ras geregistreer is nie. Daar is ‘n groot aantal telers wat die ras verder ontwikkel en verfyn het om aan te pas by die hedendaagse markaanvraag. Bonsmara is die markleier in getalle beeste, hoeveelheid produksie aantekeninge en die eerste ras in Suider-Afrika wat genomiese merker verrykte teelwaardes ingestel het. Die Bonsmara sisteem is ‘n uitstekende model om die dier se eie prestasies te meet en ook die genetiese vermoë om dit na die nageslag oor te dra.
prestasietoetsmetingsDaar is ‘n wanpersepsie onder sommige boere oor die prestasietoetsmetings wat verpligtend is in die Bonsmara en ook die term ‘om te meet, is om te weet’.
Al die eienskappe wat gemeet word as deel van verpligtige prestasietoetsing, is eienskappe wat gebruik word om die potensiële winsgewindheid van die dier te meet. Dit help die boer om met die “regte” beeste vir sy omgewing en produksiestelsel winsgewind te boer.
Dit is nie net ‘n klomp wegings en metings wat lukraak gedoen word en in die veilingkatalogus publiseer word nie. Elke aksie in die Bonsmara prestasietoetsing kan teruggebring word na die bydrae van daardie eienskap tot die winsgewindheid van die dier in jou kudde.
‘n Maklike voorbeeld is die metings vir Hoogte en Lengte asook die weging vir Volwasse Gewig. Dit gee ‘n baie goeie aanduiding van die raamtipe en of dit ‘n vroegryp of laatryp dier is. Volwasse Gewig gee weer ‘n goeie aanduiding van die onderhoudsbehoeftes van die dier.
Prestasie toetsing ook op Vroulike Bonsmara diereBoere word gedurigdeur blootgestel aan prestasietoetsmetings van Bonsmara bulle aangesien dit op die veilingkatalogusse verskyn. Sommige boere besef nie dat die totale prestasietoetsing sisteem op die vroulike diere ook gedoen word nie!
Bulle word eenmalig onderwerp aan ‘n keuring waartydens die prestasietoetsmetings ‘n beduidende rol speel. Bonsmara koeie word aan presies dieselfde keuringsproses as die bulle blootgestel.
Daarna word die koeie jaarliks ge-evalueer met betrekking tot reproduksie en produksie prestasies. Indien die tussenkalfperiode van ‘n Bonsmara koei die rasstandaard oorskry word sy outomaties uitgeskot. Presies dieselfde geld wanneer sy 2 opeenvolgende kalwers onder die groepgemiddelde gewig speen. Verder word sy ook uitgeskot as sy nie ten minste 2 uit elke 3 kalwers tot op speen grootmaak nie.
Sy word dus haar hele lewe lank ge-evalueer teenoor die ander koeie in die ras en haar maats op die plaas. Hierdie jaarlikse data evaluering is heeltemal buite die hande van die teler. Die sentrale dataverwerker, SA Stamboek in die geval van die Bonsmara ras, pas die standaarde toe en uitskot is outomaties.
In effek, evalueer jaarlike prestasietoetsing nie net of sy enige positiewe bydrae tot die kudde maak nie. Dit evalueer indirek haar aanpasbaarheid, gehardheid, moedereienskappe, melkvermoë, integriteit van haar uier en spene en uiteindelik haar winsgewindheid in jou kudde.
Kyk gerus na die reproduksie en produksiedata van die bulmoeders op veilingkatalogusse – dan weet jy hoekom die Bonsmara koeie as hoogspresterend beskryf word!
Goeie prestasies praat vir hulle self!Die baie goeie prestasies van suiwer Bonsmara en Bonsmara kruiskalwers tydens die jaarlikse speenkalfkompetisies van die verskillende veilinghuise, is ‘n sprekende voorbeeld van die waarde van die Bonsmara koei. Meer so, is die speenkalfkompetisies prestasies tydens 2020 wat die uitstaande herstel vermoë van die Bonsmara koei wys na die uitmergelende droogte van die vorige jaar!
Watter tipe koeie het ons nodig in Namibië?Prestasietoetsing oor dekades heen, navorsing en op-die-plaas waarnemings en aantekeninge, identifiseer die volgende eienskappe in die Bonsmara koei:
- Medium raamtipe
- Baie goeie aanpasbaarheid
- Hoë vrugbaarheid
- Vermoë om maklik te kalf
- Genoeg melk om ‘n optimale gewig speenkalf jaarliks te produseer
- Lae insetkoste
Meeste boere het hierdie hoogspresterende koeie in hulle kuddes en moet seker maak dat dit die genetika is wat hulle vermeerder.
Dit is gerusstellend om te weet dat Bonsmara bulle uit hierdie tipe koeie geteel word.
Die REGTE BULLE vir Namibië word uit die REGTE KOEIE geteel!
Comments:{ 0 comments… read them below or add one }
|