Hartebeestloop

Hartebeestloop
Auction 2018

Index  |  Overview  |  Newsletter 2018 | Animals | General  |  All Auctions

Goeiedag medeboere en vriende

Dit bly elke jaar ‘n lekker uitdaging om die Agra/Hartebeestloop Boeredag en Veiling te beplan! Dit is die positiewe terugvoer vanuit die boeregemeenskap wat die Boeredag so ‘n aangename ondervinding maak.

Ek dink terug aan die Boeredae vanaf 2007 en aan die baie uitstekende sprekers en hulle volgehoue verbintenis tot landbou, die verskillende fasette van boerdery wat aangespreek is, diversifikasie en ons boere se groter betrokkenheid by die waardeketting.

Ek wil my verstout om te sê dat die kwaliteit aanbiedings deur gerespekteerde kundiges oor die jare heen, ‘n betekenisvolle rol gespeel het in die suksesse van Namibiese landbou. Baie ander veilingsgroepe en instansies het die Hartebeestloop model oorgeneem en dit word nou tot voordeel van almal wyd oor Namibië gedoen.

Ek verduidelik graag die 2018 Boeredag tema met die volgende aanhaling – “Suksesvolle persone maak nie besluite wat gebaseer is op huidige omstandighede nie, hulle maak besluite op waar hulle heen op pad is en waar hulle wil wees”. My eenvoudige verklaring is om nie “minderwaardige diere of minderwaardige besluite” te neem wat jou langtermyn planne en eindbestemming negatief gaan beïnvloed nie.


BOEREDAG PROGRAM

Wat sit onder daai GEEL TRUI?

Ek kon seker ook verwys het na die “rooi vel” maar die GEEL TRUI bevestig net dat die lesing op alle beesrasse van toepassing is.

Die vleisbeesindustrie betree ‘n opwindende tydperk waarin visuele beoordeling, prestasietoetsing en alles waaraan ons gewoond is, ‘n reuse stap vorentoe neem met “genomiese ontledings”. Wetenskaplikes verwys graag na dit as “Disruptive Technology” aangesien dit bestaande praktyke en denkrigtings uitdaag.

Hierdie wetenskap het fenominale vooruitgang vir die mens, plant en suiwelindustrie gebring en nou is vleisbeeste aan die beurt. Jy gaan heel moontlik in die baie nabye toekoms aandring op ‘n bul met Genomiese Verrykte Teelwaardes.


‘n Boer maak ‘n PLAN!

Vir baie boere het die droogte op ‘n laat stadium eers omgedraai en beleef hulle nou ‘n baie goeie jaar. Vir ander is die laat reën net ‘n uitkoms na ‘n gemiddelde jaar – en vir sommige was daar nog geen of net eenvoudig te min reën.

Vir hulle is die toekoms onseker maar, hulle Geloof bly Groot! Dit is onverantwoordelik om gedurende hierdie tyd nie ons boere wat min reën gehad het met raad en ondersteuning te bedien nie. Hierdie aanbieding deel met die landbou op nasionale vlak en ook met raad vir jou op jou eie plaas! Miskien het jy van dit al vantevore gehoor en is hierdie net ‘n versterking van dit. Miskien help dit om die “droogte” uit jou kop te kry. Vir die wat in hierdie posisie is, kan dit geen skade doen om te kom luister nie.


“Nothing Changes, if Nothing Changes”

Die tema van die Boeredag en die klem op Genomika, het net EEN DOEL en dit is om meer geld in die boer se sak te sit! Die groter rol van die wetenskap in meer winsgewende boerdery kan nie ignoreer word nie. Jy gaan leer om Genomika te verstaan, in jou kudde in te bring en hoekom winsgewinde Genetika tot jou voordeel is.

Die terme Genetiese Meriete wat lei tot Geld Meriete sal deeglik verduidelik word.


VEILINGSDIERE

Dit maak egter nie sin om te leer van Genomika en die Groot Waarde daarvan as daar nie diere beskikbaar is wat genomies ontleed is nie!

Op Hartebeestloop het ons een groot stap vorentoe gevat vir die 2018 veiling en alle veilingsbulle, hulle moeders wat nog in die kudde is en die koeie wat die grootste waarde toegevoeg het tot die kudde, genomies laat ontleed.

Dit wat jy gaan leer oor Genomika, staan in die kraal.

Dit is nou ‘n geval van “Put your Money, where your Mouth is”. So ver ons kon uitvind, sal dit die eerste veiling in Suidelike Afrika wees waar alle veilingsbulle genomies ontleed is. Ons diere gaan nog steeds deur alle moontlike prosesse van prestasietoetsing en op-die-plaas evaluerings maar nou is ons regtig “onder die vel en op die gene”. Met genomika bring ons ‘n heel nuwe dimensie tot die konsep van “Haal alle moontlike risiko uit die aankoop van die diere vir die koper”.


Daar is baie kriteria wat ons gebruik om die bulle uit te soek vir die veiling. Een van die belangrikste kriteria vir 2018 was om te verseker dat die bulle uit uiters vrugbare en hoog presterende koeilyne kom. Reproduksie is laag oorerfbaar maar hoogs herhaalbaar. Bulle is gekies uit daardie koeilyne wat oor generasies heen, hoë vrugbaarheid en reproduksievermoë, hou-vir-hou herhaal het. Genomiese ontledings sal ons in die toekoms help om nog meer akkuraat te wees met die identifikasie van vrugbare en hoogs reproduserende diere.

Een ding is verseker – daar gaan ‘n bul wees op die veiling wat aan al JOU vereistes voldoen!

Dit sal vir die Hartebeestloop span baie aangenaam wees om hierdie diere vir jou te wys en jy word hartlik uitgenooi na die Boeredag en Veiling!

Vriendelike groete

Joggie Briedenhann


Back to Top
Facebook  Contact us | Copyright 2012, All rights reserved | Sitemap