Hartebeestloop

Hartebeestloop
Auction 2012

Index  |  Overview  |  Newsletter | General  | Auction PDF`s | Videos | Map |  All Auctions
Bonsmara Auction
Bulls 2012


LOT 01: HART 08-235

    


LOT 01: HART 08 - 235

Hy is geteel uit KHB 05-172. Hy is ‘n bul met ongelooflike kapasiteit en baie goeie bespiering maar die gemiddelde geboortegewig van sy kalwers op Hartebeestloop is slegs 36kg. Lees gerus meer oor KHB 05-172 op verskeie ander plekke in die katalogus. Sy ma is HART 06-105 met OEK 23 mnde, TKP van 423 oor 3 kalwers, speenindeks van 101 en RI van 116.

HART 08-235 is ‘n mediumraam bul met baie goeie lengte. Hy lyk soos sy pa – ‘n toonbeeld van manlikheid. Die kop is baie sterk, wakker-oog bul, kop op, goeie oogbanke, breë bek en breed tussen die oë, baie goeie verdonkering en goeie skrotum wat mooi simmetries hang. Opvallend is die sterk nek van die bul en hoe hy sy kop dra. Daar is genoeg diepte, lengte, bespiering en breedte in die bul om goeie kapasiteit te verseker. Die bul se middelstuk, sprong van rib en toplyn trek dadelik aandag – en so ook die diepte deur sy voorlyf. Daar is oorgenoeg vleis aan die raamwerk.

Die aanpasbaarheidseienskappe is baie goed. Hy vertoon goeie skofontwikkeling, goeie vel en haar en baie sterk bene en kloue. Daar is goeie lengte van die heupbeen na die sitbeen en die kruishelling is gunstig. Hy het ‘n uitstekende skede/naelvel kombinasie. Die enigste probleem is die man wat sy stert gebreek het as jong bul – vandag vat niemand meer aan ‘n dier se stert op Hartebeestloop nie, behalwe as om die stert te byt sodat die bees moet vorentoe in die manga. Hy het bietjie wit net voor die skrotum wat van sy pa af kom.

Hiedie bul het het goeie teelwaardes met geboortedirekte waarde minimaal bo rasgemiddeld, goeie melkwaarde en groeivermoë, uitstekende voerdoeltreffendheidswaardes, die regte “right size” liggaamsmates en baie goeie reproduksie teelwaardes. Teelwaardes speel ‘n rol in stoetteling en vleisproduksie maar is net een van baie eienskappe wat oorweeg moet word.

HART 08-235 moet verkieslik op ouer verse (24 mnde) en koeie gebruik word. As ek die bul fisies evalueer, maak sy skouerknoppe en definisie van spier my versigtig vir gebruik op jong verse. Vir die kommersiële boer is hy die ideale bul vir enige produksiestelsel. Hy het genoeg melk om aan sy verse oor te dra, goeie voorspeense groei vir speenkalf produksie en baie naspeense groei op die veld vir osproduksie. HART 08-235 sal ook goed doen in ‘n kruisteelprogram – hy sal jou Simmentaler kruisingkoeie en Simbra koeie glad van vel en haar teel en ‘n ton voorspeense groei na die partytjie bring! Die kleiner beesboere met heelwat melkras genetika in hulle kudde sal ook baie baat om meer vleis en groei in te bring.




LOT 02: AEJ 05 - 112

    


LOT 02: AEJ 05 - 112

Dit is tradisie op Hartebeestloop om elke jaar ten minste 2 beproefde stoetvaars in die mark te sit. Ons het ook ‘n geskiedenis van goeie teelmateriaal wat aangekoop is by Jan Pienaar van NOSA Bonsmaras. AEJ 03-199 wat tans by Tollie van Tonder (Komaweer Bonsmaras) is en AEJ 05-112 is deel van ons bulaankope by Jan. AEJ 05-112 is ‘n deel bul wat ons saam met Badeveen Bonsmaras (Dok en Dirk Badenhorst) besit. Vir die eerste tydperk het ons net semen gebruik terwyl hy fisies by Badeveen was. Ons het hom primër gebruik om verse oop te maak. Hy kom uit ‘n uitstekende moeder, AEJ 00-148 wat nog steeds aktief in die NOSA kudde is. Haar OEK is 30 mnde, TKP is 382 dae oor 9 kalwers, speenindeks van 102, RI van 111 en 100% stoetgoedkeuring van al haar kalwers aangebied.

Hierdie bul het goed gedoen by Badeveen Bonsmaras asook op Hartebeestloop. Hy teel mooi donker kalwers met pragtige pigment. Opvallend van sy kalwers is die baie goeie lengte wat hy konstant teel. Hy teel besondere goeie diepte, genoeg bespiering, goeie skrotums en sterk toplyne. As ek moet kritiseer, sou ek graag beter agterkwarte wou sien by sy nageslag. Hy self raak ook bietjie weg op die agterkwart veral as mens kyk na sy uitsonderlike voorkwart en goeie middelstuk. Daar is heelwat kalwers van hom wat in die ry staan en die beplanning is ook om een spesifieke seun van hom te gebruik wat nou baie goed doen tydens die somer FASE D groeitoets.

AEJ 05-112 is weereens ‘n bul wat onverwant is aan die meeste NOSA-genetika wat in Namibië is. Dit is geskiedenis dat Namibiërs gereeld by NOSA Bonsmaras koop en dat hulle beeste baie goed aanpas en hoog geskat word. AEJ 05-112 se aanbieding skep ‘n goeie geleentheid vir diegene wat weens die toe grens NOSA genetika wil besit. Kyk gerus na hom – hy sal sy merk maak in menige kudde.




LOT 03: AG 04 - 175

    


LOT 03: AG 04 - 175

Gedurende die begin jare van stoetteling was ons verplig om alle goeie en “goeierige” verse te hou as vervangingsverse. Pryse vir goeie vroulike diere was “sky high” – die pryse is vandag nog steeds hoog. Meeste van ons aankope was ook gemik op die jonger diere in kuddes wat veronderstel is om die beter genetika te wees. Die uiteinde was dat daar altyd ‘n kroniese tekort aan goeie versbulle op Hartbeestloop was. Ek koop AG 04-175 vir die volgende redes op die 2007 Arcadia veiling – ek was baie beindruk met die foto van sy pa, hy het alles wat ek in ‘n versbul soek, sy skrotumteelwaarde is ver bo die rasgemiddeld en hy het baie goeie lengte. Sy familielyn is vol van beproefde versbulle.

Hierdie bul het 104 nageslag met gemiddelde geboortegewig van 35kg op Hartebeestloop. Sy noem naam is Juan – weens sy hoë libido. Hy was een van die bulle met die hoogste libido waardes in Retha Scheepers se M.studie op Arcadia Bonsmaras. Een van sy seuns HART 08-215 wat ook op die veiling is, is as jong bul ook gebruik in die kudde. Tans word nog een van sy seuns in die kudde gebruik as versbul.

AG 04-175 praat vir homself in die kraal. Ek sal praat oor sy kalwers. Hy teel soos hy lyk. Daar is baie goeie lengte, diepte en kapasiteit in die kalwers. Hy teel baie konstant uitstaande vel en haar en sterk koppe. AG 04-175 het ‘n groot rol gespeel in die kudde om baie goeie skrotums te teel. Nie net in grootte maar ook glad, simmetries en wat in goeie posisie hang. Sy kalwers het meestal die donker en sterk kloue soos hy en is ook effens fyner in die been. Op Hartebeestloop is hy geklassifiseer as ‘n spesialis kalwingsgemak bul. Hy is baie suksesvol gebruik op jong verse van 14 mnde ouderdom. Met ouderdom het hy bietjie swaar geword vir die verse en word nou gebruik op 24 maande oue verse en koeie. Die oorgrootte meerderheid van sy nageslag se pelvisgroottes was groter as die groepsgemiddeld en die fisiese pelvismates in cm² is effe groter as die kuddegemiddeld. Dit is vir ons ‘n belangrike ekonomiese, voordelige eienskap.

AG 04-175 kan nog baie suksesvol vir ‘n heel paar jaar gebruik word. Sy aanbieding is deel van die Hartebeestloop tradisie om jaarliks 2 beproefde stoetvaars aan te bied. As ons kyk na die nageslag van die vorige beproefde stoetvaars by hulle nuwe eienaars, weet ek dit is die regte ding om te doen. Hierdie stoetvaars is “dead certainties” en jy koop ‘n groot klomp gemoedsrus. Telers wat, soos ons, dieselfde eienskappe selektief wil reg teel met AG 04-175, moet hierdie bul ernstig oorweeg. Beter as hy is moeilik om te kry!




LOT 04: HART 08-082

    


LOT 04: HART 08-82

Ons het HART 08-082 met groot sukses in die Hartebeestloop stoet gebruik om jong verse oop te maak. Ek het sy oupa RCO 98-037 by Ian en Jan Lourens van Jay-El Bonsmaras gesien en was beindruk met hom. Ons het verskillende kombinasies probeer met RCO 98-037 nageslag op Namibiese koeie. HART 08-82 is geteel uit HJS 03-016 en NGO 00-069 – sy is ‘n tipiese meer Bos indicus koei. Die kombinasie werk uitstekend en daar is nog sulke seuns op pad. NGO 00-069 kom uit Woestyn Bonsmaras waar haar data nie op datum gehou is nie. Haar TKP is 436 dae met haar laaste 4 TKP’ s op Hartebeestloop 400, 387, 383 en 367 dae onderskeidelik. Sy kalf op 30 mnde en speen 7 kalwers teen 102 indeks teen 47,7% van haarmassa. Sy het ‘n 83% goedkeuring van haar kalwers. Ek verkoop 2 bulkalwers en 1 verskalf van haar vir ‘n totale bedrag van N$ 207 000.00. Sy is ‘n yster koei!

HART 08-82 is ‘n vroeg ryp mediumraam bul wat op verse en koeie gebruik kan word. Hy vertoon uitstaande kapasiteit, goeie balans met baie goeie bespiering. Seker een van die breedste bulle op die veiling – met sterk toplyn, goeie kruishelling en sterk bene. Hy vertoon baie manlik – kop is sterk, oogbanke is goed ontwikkel, verdonkering is aanwesig en skrotum is uitstekend (37,1 cm in omtrek). HART 08-82 het baie goeie hoogte/lengte verhouding van 1:21 en die ekstra vleis en gewig is in die lengte. Sy onderlyn is baie goed met perfekte skede en naelvel. Hy vertoon ook uitstekende aanpasbaarheidseienskappe – vel en haar is perfek, vel is 17mm dik, skof is goed ontwikkel en kloue is sterk. Jy kan nie beter vleiseienskappe verwag as wat hy wys nie. Daar is nie ‘n plek wat hy nie propvol vleis is nie. Ons almal het mos ten doel om karkasopbrengs en uitslagpersentasie te verbeter! Sy teelwaardes is weereens baie goed gebalanseerd en jy kan duidelik sien dat hy ook as versbul vir jong verse gebruik kan word. Geboortedirek is onder die rasgemiddeld, daar is genoeg melk en beide voorspeense en naspeense groei is genoegsaam.

HART 08-82 is vroeg geidentifiseer as moontlike stoetbul wat self gebruik gaan word in die Hartebeestloop kudde. Hy is onverwant aan meeste van ons bloedlyne en ek is nie bewus van enige ander RCO 98-037 bloedlyne in Namibië nie. Hy het uitstekend geteel by ons en die kalwers lyk soos hy – dik, breed, goed bespierd met alreeds alle tekens van uitstaande kapasiteit. Daar is min bulle wat ek gesien het wat dié kwaliteit kalwers uit 1ste kalf verse teel. HART 08-82 behoort na ‘n top stoetkudde te gaan waar sy eienskappe en kwaliteite tot voordeel van die Bonsmara ras gebruik kan word. Ek kan hom met geruste hart aanbeveel – en doen ook so!




LOT 05: HART 09 - 53

    



LOT 05: HART 09-53


Hy is geteel uit ons staatmaker kuddevaar AG 02-027 en NGO 02-008. Sy is ‘n Woestyn Bonsmara koei wat gebou is om in die warm Kalahari te presteer. Haar OEK is 32 mnde, TKP is 386 dae oor 8 kalwers met RI van 109. Sy het 80% stoet goedkeuring van haar kalwers. Sy is nie die meer Bos indicus tipe Namibiese Bonsmara koei nie. Sy is vol vleis, breed met goeie kapasiteit en ook goeie bespiering maar nog steeds baie vroulik met ‘n uitstekende uier en spene.

HART 09-53 het alle eienskappe wat ek en jy in ‘n stoetbul waardeer. Hy wys baie manlikheid, sterk bek, goeie oogbanke, baie sterk nekontwikkeling en goeie verdonkering van die voorkwart gedeelte. Sy skrotum is goed gevorm, hang mooi, is glad en het 36,1 cm gemeet. HART 09-53 vertoon uitstekende lengte met hoogte/lengte verhouding van 1:21. Nieteenstaande sy goeie lengte is die toplyn baie sterk – kyk gerus na die oogspier en hoe dit in die skofgedeelte ingaan. Met so ‘n oogspier kan die rug mos nie pap of hol wees nie. Die kruishelling se inklinasie is goed en so ook die baie goeie lengte van heupbeen na sitbeen. Hy is besonders breed reg deur - vanaf tussen die oë tot by die agterkwart. Daar is goeie diepte, sterk maar soepel bespiering en baie goeie kapasiteit.

Sy aanpasbaarheid kan nie beter nie – bene en kloue is sterk en sy vel en haar is van hoogstaande kwaliteit. HART 09-53 het van die beste vleiseienskappe op die veiling. So moet ‘n bul mos lyk om karkasopbrengs te verhoog en jou kudde ekonomies meer suksesvol te maak.

Hier het ons het uitstekende teelwaardes. Effens swaarder as rasgemiddeld op geboortedirek, met baie goeie voor- en naspeense groei, genoegsame melk, uitstekende voerdoeltreffendheidswaardes, perfekte liggaamsmates en uitstaande reproduksie teelwaardes. Hy is ‘n Top Presteerder met Suidelike-Afrika Veldbul ekonomiese indeks van 128, GDT indeks 126, Kleiber indeks 117 en baie goeie pelvismates. Daar is geen van sy prestasietoets data of meting van ekonomiese belangrike eienskappe wat ek kan kritiseer nie. HART 09-53 is ons trots op Hartebeestloop en hy is ‘n volwaardige stoetbul. Die teler wat hom kry, gaan ‘n reuse stap vorentoe neem in kudde prestasie en genetiese verbetering. As jy enigsins kan, maak plek vir hom in jou kudde.




LOT 06: HART 08 - 237

    


LOT 06: HART 08-237

Deur die jare het dit vir ons baie goed gewerk om uitsonderlike RSA bulle met goeie groei en doeltreffenheidseienskappe te kombineer met die meer Bos indicus tipe Namibiese Bonsmara. Dit is waar die komplementariteitseffek (swak eienskappe wat versterk word) van kruisteling “big-time” in skop.

HART 08-237 is geteel uit AG 98-338 en NGO 99-0088 (Woestyn Bonsmaras). Haar OEK is 31 mnde, TKP van 464 dae oor 6 kalwers, 5/6 stoetgoedgekeur en sy speen haar kalwers teen 48.6% van haar liggaamsmassa (496kg). Woestyn Bonsmara het ongelukkig nie die koei se reproduksie data op datum gehou nie en sy is ver beter as wat haar prestasiedata aandui. Haar dogter HART 06-0077 het ook ‘n baie goeie seun (HART 08-246) op die veiling. Verse van haar was van die topverkopers op 2008 en 2010 se produksie veilings. Een dogter, HART 07-154 word gebruik in kudde met OEK is 25 mnde, TKP 385 dae oor 3, RI van 118 en speen teen 50,1% van haar liggaamsmassa.

Dit is moeilik om HART 08-237 te beskryf – baie beter om hom self te sien! Hy is met groot sukses in die Hartebeestloop stoet gebruik en het uitstaande kalwers produseer. Hy het baie goeie lengte, uitstekende bespiering, goeie diepte en baie goeie breedte reg deur. Hy is ‘n bul met uitstaande kapasiteit, sterk toplyn, dik en sterk nek, baie goeie agterkwart met sterk bene en kloue. Kyk gerus na die middelstuk en sprong van rib. Hy dra vleis! – binne en buite dye is uitsonderlik vol, vol agter die blad en by die lende areas met breë hakke waar die boudspiere tot laag afstrek. Sy kalwers lyk presies soos ek bo beskryf het. Hy het genoeg manlikheid in die kop, breed tussen die oë, breë bek met goeie verdonkering in die nek en voorkwart area. Sy skrotum meet 33,7cm, is simmetries en hang perfek. Sy skede/naelvel kombinasie is baie goed.

HART 08-237 se teelwaardes is baie goed gebalanseerd. Hy is laer as rasgemiddeld op geboortedirek, vertoon goeie groei en voerdoeltreffendheidseienskappe, regte liggaamsmates en baie goeie kalftempo. Sy skrotumteelwaarde is negatief – ons sien dit gereeld dat jong bulle van een BLUP lopie na die ander geweldig verander as hy in ‘n “groot gemete skrotum gemiddelde” groep tydens groeitoets was. Net om weer die volgende jaar na die ander kant toe te verander. HART 08-237 is ‘n stoetbul van baie hoë potensiaal. Dit wat die tradisionele Bonsmara van Namibië te kort skiet, het hy in absolute oormaat!




LOT 07: HART 09 - 131

    


LOT 07: HART 09 - 131

Die bul se vaar is AG 03-029 wat uitstekend doen op Hartebeestloop. Beide sy bul en verskalwers kom nou baie sterk deur in die kudde. Sy moer BHE 05-035 se OEK is 26 mnde, TKP van 376 dae oor 3 kalwers, speenindeks van 106 oor die 3 kalwers teen 48,2% van haar ligaamsmassa en RI van 117. Voorwaar ‘n uithaler koei.

HART 09-131 is ‘n klipharde bul met uitstekende bespiering. Sy oogspieroppervlakte is ver bo die rasgemiddeld – kyk gerus die breedte wat die bul oor die rug vertoon. Hy staan breed op sy bors en vat hierdie breedte reg deur tot agter. HART 09-131 vertoon uitstaande lengte maar nog steeds ‘n baie sterk toplyn wat eindig in ‘n perfekte kruishelling. Sy hoogte/lengte verhouding is ver beter as die ras en van die heel bestes op die veiling (1:28). Hy vertoon uitstekende balans met goeie kapasiteit, buite en binne dye is vol vleis, goeie vleiseienskappe oor die lende area en vol agter die blad. Vir ons is sy bene en kloue van groot waarde – dit is presies soos ons dit wil teel om te kan presteer onder moeilike ekstensiewe toestande. Sy sekondêre manlikheidseienskappe is baie sterk – kyk na sy kop en verdonkering in die nekarea. Sy skrotum is skoon, hang perfek en meet 35,4cm. Beter aangepas as HART 09-131 is moeilik om te teel – vel en haar uitstaande, skofontwikkeling baie goed, stert hang tot op die grond en sy skede/naelvel kombinasie is 100%.

HART 09-131 het baie goeie teelwaardes – presies soos ons dit wil hê. Laag op geboorte direk met genoegsame groei,goeie melksyfers, goeie doeltreffenheid met uitstekende lengte. HART 09-131 is ‘n Top Presteerder met indekse van bo 100 vir speen, GDT, Kleiber, Veld Bul en pelvismate. In alles wat ons gemeet het, het hy baie goed presteer. Verskeie veekundiges en stoetvee konsultante het hom op verskillende stadia van ontwikkeling konstant gepunt as potensiaale stoetvaar.

Ek kan HART 09-131 met geruste hart aanbeveel na ‘n ernstige stoetteler. Hy is propvol stoetpotensiaal – fenotipies korrek, uitstekende prestasietoetsing waardes en uitstaande vleiseienskappe. Jy kan hom op verse en koeie gebruik. As jy nog nie die bloedlyn in jou kudde gevestig het nie, is dit nou jou kans. Hy is Hartebeestloop se trots!




LOT 08: HART 09 - 07

    


LOT 08: HART 09-07

Daar is ‘n paar uitsonderlike AG 98-338 seuns op die veiling en HART 09-07 is een van hulle. Hy is geteel uit ‘n Namibiese koei NGO 03-093 van Woestyn Bonsmaras. Haar OEK is 36 mnde, TKP is 387 dae oor 6 kalwers met 75% stoetgoedkeuring en RI van 105. Sy speen haar kalwers teen 50.1% van haar liggaamsgewig. Sy is ‘n uitstekende koei wat onder sub-optimale beesboer toestande nog steeds ver bo die gemiddeld presteer. Ek gaan nie veel sê oor AG 98-338 nie behalwe dat dit seker die bekendste bul is van alle beesrasse in Suidelike Afrika. As jy nog nie die bloedlyn in jou kudde het nie moet jy dit dalk nou ernstig oorweeg.

HART 09-07 is in alle opsigte ‘n uitstekende bul. Hy is ‘n mediumraam tipe 3 bul met baie goeie bespiering en goeie kapasiteit. Die toplyn is sterk, daar is baie goeie breedte, goeie diepte deur die voorlyf en mooi sprong van rib. Hy is sekerlik van die bes gebalanseerde bulle op die mark. HART 09-07 het ‘n baie goeie agterkwart en is vol vleis agter die blaaie. Oor die algemeen is sy vleiseienskappe baie goed.

Hy is baie manlik met sterk kop, goeie oogbank ontwikkeling en sterk nek. Sy skrotum meet 36,8 cm, is glad en skoon maar die naat is effe na regs aangeheg. HART 09-07 is ‘n kop-op-bul – hy weet gedurig wat om hom aan gaan. Sy aanpasbaarheid is uit die boeke – vel en haar is goed, vel is baie dik en meet 18mm, skofontwikkeling is sterk en sy bene is baie sterk. Kyk gerus na die bul se bene, breedte oor die hakke en kloue. Dit is alles uitstaande. Sy kruishelling, wydte tussen sitbene, stertaanhegting en onderlyn kan nie beter nie. Hy is donkerrooi van kleur en dit is wat die Bonsmara mark soek.

HART 09-07 se teelwaardes is uitstekend. Hy is binne perke op geboortegewig direk, vertoon goeie voor- en naspeense groei, met uitstekende voerdoeltreffendheidsyfers, goeie liggaamsmates en baie goeie reproduksie eienskappe. Hy is ‘n Top Presteerder tydens alle prestasietoetse wat ons gedoen het – Veldbul ekonomiese indeks (115), GDT (107) en Kleiber indeks (101). Sy kondisietelling was gedurende die 9 mnde ekstensiewe groeitoets altyd van die heel bestes. Hy is gehard, sal orals aanpas en sy konstitusie behou. Hierdie bul het alreeds van jong kalf af gewys dat hy gaan ontwikkel in ‘n volwaardige stoetbul. Hy is in alle opsigte die ideaal wat Hartebeestloop wil teel. Ek ken sy stamboom, sy prestasies tydens die prestasietoetsing, die waarde van sy ekonomiese belangrike eienskappe en sy BLUP teelwaardes en daarom kan ek hom aanbeveel as ‘n stoetbul. Met hom kan jy nie verkeerd gaan nie!




LOT 09: HART 09 -10

    


LOT 09: HART 09-010

Die bul is geteel uit AG 02-027 wat nou by Ponk O’Kennedy van Woestyn Bonsmaras is. Ons het uitsonderlike bulle van hom gekry met miskien die heel bekendste HART 07-0027 wat by Edward Hansen (EMOK Bonsmaras) as stoetbul gebruik word. Die moer is BHE 04-211 met OEK 27 mnde. TKP van 365 dae oor 6 kalwers en RI van 117 en 100% goedkeuring van al die kalwers aangebied. Die oorgrootte meerderheid van die Fortress koeie het by ons uitgedraai as staatmaker koeie.

HART 09-10 is ‘n mediumraam bul met uitsonderlike goeie bespiering. Jy kan die bespiering reg deur beoordeel vanaf die dik nek, voorarm, oogspier en skilpadspier. Dit is veral die oogspier wat baie prominent op die rug vertoon. Sy oogspier oppervlakte is ook groter as rasgemiddeld. Sy hoogte/lengte verhouding van 1:24 is ook baie goed en ver beter as rasgemiddeld. Die bul is ‘n toonbeeld van manlikheid met baie sterk kop, uitstekende oogbank ontwikkeling, breed tussen die oë en sterk bek. Sy skrotum meet 39,6cm en sy teelwaarde is 14.9. Dit is seepglad, goed gevorm maar die aanhegting is effe na regs. Hy vertoon ‘n baie goeie onderlyn met skede/naelvel kombinasie wat baie funksioneel is. HART 09-10 se vel en haar is van die beste in die beesbedryf. Sy skofontwikkeling is uitstekend en hy is baie sterk in die nek/voorkwart aansluiting. Bene en kloue is uitstekend en so ook die kruishelling. Sy stertaanhegting kon beter gewees het.

HART 09-10 het 30kg geweeg by geboorte en sy teelwaarde vir geboortedirek is ver onder die rasgemiddeld. Sy teelwaardes vir groei en doeltreffendheid is tipies die van ‘n versbul. Sy reproduksie teelwaardes is egter uitstekend. Hy doen uitstaande tydens die res van die prestasietoetsing met indekse vir Veldbul (111), speen (107), GDT (109), Kleiber (109) en pelvis (99). Daar is min bulle in die mark met hierdie tipe prestasie data. Ek sal hom net op goed uitgegroeide verse van 24 maande oud en koeie gebruik.

Hierdie bul het baie goeie kwaliteite en is ‘n potensiaale stoetbul. Telers moet egter voorsiening maak vir sy growwe stertaanhegting en ook kennis neem van die skrotumaanhegting. As jy sterk is in jou kudde op goeie stertaanhegtings en goeie skrotums, kan jy gerus na HART 09-10 kyk. Daar is soveel wat hierdie bul na die tafel bring en hy sal soveel waarde toevoeg tot menige kudde dat ek hom sterk aanbeveel vir stoetteling. Kyk na die bul in totaliteit en maak dan vir jouself ‘n waardebepaling van wat voor jou staan.




LOT 10: HART 09 - 25

    


LOT 10: HART 09-25

Die bul is geteel uit AG 98-338 en CEF 98-095. Sy is uit die hand aangekoop by Fourie Scheepers (Zinabos Bonsmaras) en het goed presteer op Hartebeestloop. OEK is 31 mnde, TKP van 399 dae oor 9 kalwers met gemiddelde speenindeks van 102, RI van 108 en 70% stoetgoedkeuring van haar kalwers. Hierdie koei se prestasies moet gesien word in die lig van haar veskuiwing uit die koue Fouriesburg na die droë en warm Kalahari. AG 98-338 se bydrae tot die Bonsmara en die vleisbeesindustrie in die algemeen is enorm . Ons wens is dat elke kommersiële boer wat met Bonsmaras boer, suiwer of in kruisteling, van sy nageslag in die kudde sal hê.

HART 09-025 is ‘n mediumraam “All Rounder” bul wat op verse en koeie gebruik kan word. Hy is ‘n “wakker oog” bul met baie trotse houding – sy kop is altyd in die lug. Daar is baie goeie manlikheid in die bul met ‘n sterk kop, goeie oogbankontwikkeling, breed tussen die oë, breë bek en uitstekende verdonkering in die nekarea. Sy skrotum is goed gevorm, hang simmetries en meet 36.5cm. Hy vertoon ook ‘n skoon onderlyn met goeie skede/naelvel kombinasie. HART 09-25 vertoon uitstekende spierdefinisie en sy oogspieroppervlakte is heelwat bo die rasgemiddeld. Sy skilpadspier en voorarm is ook baie goed ontwikkel wat sy goeie bespiering beaam. Sy hoogte/lengte verhouding van 1:16 is op rasgemiddeld. Toplyn is sterk en eindig in baie goeie kruishellling. Ek het lanklaas ‘n bul gesien met die aanpasbaarheidseienskappe van HART 09-25. Sy vel en haar is miskien die beste op die veiling, skofontwikkeling is baie goed en sy bene en kloue is uit die boeke. Ek kan nie genoeg sê oor die goeie eienskappe van die bul nie. Jaar na jaar sien ons dat hierdie tipe bulle die beste bemarkers is vir Hartebeestloop Bonsmaras. Hulle behou konstitusie waar ookal jy hulle heen stuur, werk hard, pas maklik aan, loop goed en bly presteer.

Sy teelwaardes is reg op die “spot”. Laag op geboortedirek, goeie groei met baie goeie doeltreffendheid en sterk op reproduksie. Sy ander gemete eienskappe is of op die kuddegemiddeld of effe hoër. HART 09-25 is by ons op rekord as ‘n potensiële stoetbul. Enige teler wat nog nie die AG 98-338 bloedlyn in sy kudde gevestig het nie en dit graag wil doen, moet baie goed kyk na HART 09-25! Namibiese telers wat alreeds belê het in AG 98-338 genetika gaan binnekort die vrugte daarvan pluk. Nageslag van hom by hierdie telers is van uitstaande gehalte. HART 09-25 het die voordeel bo sy pa dat hy wel op verse ook gebruik kan word. Hy kan ook uitstekend selektief gepaar word met jou groter raam, platter tipe koeie. Dit het baie goed by ons gewerk en daar is geen rede hoekom dit nie by ander telers dieselfde sal wees nie.




LOT 11: HART 09 - 214

    


LOT 11: HART 09-214

Hierdie bul is uit AG 03-029 en BHE 05-061. Ons is baie tevrede met die teling van AG 03-029 – sy kalwers is konstant onder die bestes van die kalwergroepe. Kyk gerus na die kwaliteit van sy ander bulkalwers op die veiling. Ons gebruik ook 2 seuns in die kudde. BHE 05-061 se OEK is 27 mnde, TKP van 400 dae oor 5 kalwers, speenindeks van 102 en RI van 111. Sy het 100% stoetgoedkeuring van haar kalwers. Sy het as jong vers op Hartebeestloop vanaf Frankfort (Vrystaat) aangekom en het uitstekend aangepas.

HART 09-214 is in alle opsigte ‘n uitsonderlike bul wat die oog vang. Hy vertoon baie goeie lengte (teelwaarde is 21) met goeie hoogte/lengte verhouding van 1:20. Jy kan dadelik sien dat sy lengte dra by tot sy indrukwekkende voorkoms. Die bul se vleiseienskappe beindruk – vol agter die blaaie, vol vleis oor die lende areas, kruis is goed vol vleis, uitstekende agterkwart en groot oogspieroppervlakte gemeet. Na alles gesê en gedaan is oor stoetteling, is genoegsame vleis en gewig op ‘n funksioneel doeltreffende dier, van die beste doelwitte wat in enige teelbeleid ingebou moet word. Hy is baie manlik – met sterk kop en oogbanke, uitstekende skrotum en goeie skede en naelvel. Kyk na die bul se vel en haar – glansend met kort, blink haar. Sy bene en kloue is opvallend sterk – kyk gerus na die breedte oor die hakke.

HART 09-214 vertoon baie goeie teelwaardes. Hy is op geboortedirek minimaal swaarder as die rasgemiddeld (sy eie geboortegewig is 36 kg). Hy vertoon uitstekende groeisyfers wat afplat na volwasse gewig, sy doeltreffendheid teelwaardes is baie goed en so ook sy liggaamsmate verhoudings en reproduksie. Hy was van die bestes met sy prestasietoetsing – Veldbul ekonomiese indeks (103), GDT (125), Kleiber indeks (111) en gemete pelvisoppervlakte van 19,63 cm² wat bo die kuddegemiddeld is. Hy presteer orals goed ongeag wat jy meet of weeg.

Daar is altyd bulle wat die plaasbestuurders en werksmense wat gedurig met hulle werk, hoog aan prys. Dit het baie te doen met loopvermoë (onthou ons diere word oor lang afstande getrek vir weging), kondisie deur die hele jaar, temperament, kop stamp en gesag afdwing (ons manne glo die sterkste bul is ook die beste) en vele meer. HART 09-214 is hulle keuse vir die bul van die veiling. As stoettelers plaas ons altyd ‘n premie op die opinie van die mense wat baie nou en daagliks met die beeste/bulle werk. HART 09-214 is ‘n potensiële stoetbul en is beslis ook een van my aanbevelings vir die veiling.




LOT 12: HART 09 - 122

    


LOT 12: HART 09-122

Hy is geteel uit AG 03-353 wat nou aan Dries Venter van Tzaus Bonsmaras behoort. Van julle sal die bul onthou van die 2009 veiling – donker bul met baie goeie kwaliteite en uitstekende prestasietoetsing waardes. Die ma is ‘n Fortress koei BHE 05-033 wat kom uit AG 98-338 gekombineerd met Robco genetika. Haar OEK is 26 mnde, TKP van 365 dae oor 4 kalwers met gemiddelde speenindeks van 104, RI van 118 en 100% stoetgoedkeuring van haar kalwers. ‘n Uitstekende seun van haar is verkoop aan André du Plessis (Steinhausen) en ‘n vers aan Julius Lawrence (Mariental). BHE 05-033 is ‘n uitstaande Bonsmara koei.

HART 09-122 is van die beste bulle wat nog op Hartebeestloop geteel is. Hy is ‘n toonbeeld van manlikheid, fier en regop, sterk oogbanke, breë bek met goeie verdonkering in die nekarea. Sy skrotum hang perfek, is goed gevorm en meet 38,7cm met teelwaarde van 24,8! Die bul het uitstekende bespiering, breedte regdeur, diepte deur die voorlyf en baie goeie kapasiteit. Sy hoogte/lengte verhouding is 1:23 wat die rasgemiddeld ver klop, sy toplyn is sterk nieteenstaande sy lengte en sy oogspieroppervlakte is bo rasgemiddeld. Hy is propvol vleis – vol agter die blad, binne en buite dye is vol vleis, boudspier is lank en heg laag op die hak aan, vol vleis in die lende en goed gevul met vleis op sy kruishelling. Sy bene en kloue is onverbeterlik vir ons toestande – hier kan ‘n dier nie oorleef as sy bene en kloue nie sterk is nie. Sy aanpasbaarheid is uitstaande – vel en haar, skofontwikkeling en dik velvoue in nek en lang stert - jy kan nie vir meer vra nie.

Die bul het uitstekende teelwaardes! Gemiddeld op geboortedirek, goeie melk, baie goeie groei en GDT, sterk in doeltreffendheid en uitstaande in reproduksie teelwaardes. Sy ekonomiese belangrike eienskappe is van die beste – speenindeks (108), GDT (107), Kleiberindeks (103), Veldbul (102) en pelvismate op kuddegemiddeld. Hy is wragtag ‘n Top Presteerder in elke sin van die woord.

As stoetteler sien jy jong bulle wat stoetpotensiaal vertoon (‘n baie lekker gevoel!) en dit het ons die beste deel van 10 jaar gevat om dit te bereik. Van tyd tot tyd sien jy ‘n jong bul wat ‘n stoetbul is en klaar. HART 09-122 is so ‘n bul. Hy behoort te gaan na ‘n stoetteler wat sy kwaliteite kan gebruik om merkwaardige vordering in sy stoetkudde mee te bring. Ons kies gereeld gebruiksbulle om een of meer eienskappe in die kudde te versterk maar dit is selde moontlik om ‘n bul soos HART 09-122 te kry wat werklik nie op een eienskap ondergeskik is nie. Wat jy uitkies vir hom om te verbeter, sal hy doen sonder benadeling van enige ander eienskap. Dit is mos ‘n stoetbul. Ek staan en val by HART 09-122




LOT 13: HART 09 - 58

    


LOT 13: HART 09-58

Hierdie bul is geteel uit WAT 04-339 en ‘n koei van Jaap Prinsloo (Marloo Bonsmaras) JMP 04-236. Sy doen baie goed in die Kalahari met OEK 25 mnde, TKP van 386 dae oor 6 kalwers, en ‘n RI van 115. Sy is nog steeds in die kudde en is van 2011 deel van die Elite groep koeie op Hartbeestloop. Kyk gerus na HART 09-58 en dan sal jy weet hoekom ons haar as een van die beter koeie identifiseer het. WAT 04-339 kom vanaf Frikkie Kruger (Waterpaslaagte Bonsmaras) en word nog steeds in die kudde gebruik. Hy teel konstant wat die mark soek en sy kalwers is van die beste verkopers op Hartebeestloop.

HART 09-58 beïndruk jou dadelik as jy hom sien. Hy is sommer ‘n bielie van ‘n bul met uitstekende kapasiteit, lengte, breedte reg deur, diepte deur die voorlyf en baie goeie bespiering. Hy is veral sterk in die voorkwart, wys uitstekende sprong van rib en het goed bespierde rug en agterkwart. In kort – hy is pragtig in balans. Daar is genoeg manlikheid in die bul, verdonkering is aanwesig en hy is wakker en wil weet wat om hom aangaan. Hy het uitstekende vleiseienskappe – oor die lende, kruis, binne en buite dye en agter die blad is dit orals vol vleis. Hy is besonders sterk in die agterkwart.

Sy aanpasbaarheidseienskappe is ook baie goed. Kyk na sy baie goeie vel en haar, dik vel met breë velvoue in die nekgedeelte, goeie skof en baie, baie sterk bene en kloue. ‘n Bul moet gemaklik oor ver afstande kan beweeg om te presteer op Dassiesfontein – hy doen dit maklik. Hier is goed gebalanseerde teelwaardes. Hy is baie laag op geboortedirek, daar is goeie voorspeense en naspeense groei met uitstekende voerdoeltreffendheidswaardes en ook goeie reproduksie teelwaardes. Alhoewel sy teelwaardes aanduidend is dat hy op verse ook gebruik kan word, sal ek dit met omsigtigheid benader. Die bul is breed met baie kapasiteit en goeie bespiering – probeer hom eers op uitgegroeide verse van 24 mnde en kyk hoe die kalwing verloop. Maak dan ‘n besluit oor presies hoe jy hom gaan aanwend.

HART 09-58 het goeie stoet potensiaal en is ‘n uitstaande bul wat uitstekende eienskappe in jou kudde behoort vas te lê. Hy is ‘n baie goeie voorbeeld van die tipe Bonsmara wat ons moet teel om mark segment te behou en selfs te vergroot. Hy spreek alles aan van regte tipe, fenotipies korrek, vol vleis, goeie teelwaardes, sterk stamboom en goeie moeder. Stoettelers behoort ernstig na die bul te kyk – hy gaan ‘n indruk maak op die veiling!




LOT 14: HART 09 - 203

    


LOT 14: HART 09-203

Hy is geteel uit HJS 03-016 (RCO 98-037 seun) en BHE 04-201. Ek het reeds op ander plekke in die katalogus verwys na die kombinasies wat ons gedoen het met RCO 98-037. HART 09-203 is ‘n toonbeeld wat vermag kan word deur selektiewe paring. BHE 04-201 se OEK is 27 mnde, TKP 442 dae oor 5 kalwers met speenindeks van 102 oor 4 en RI van 105. Al haar kalwers aangebied vir stoet, is goedgekeur. Sy het aanvanklik gesukkel met aanpassing in die Kalahari maar doen uitstekend nou.

HART 09-203 is ‘n mediumraam “All Rounder” bul wat op verse en koeie gebruik kan word. Sy manlikheid val dadelik op – kop is sterk met goed ontwikkelde oogbanke, breë bek, genoeg spasie tussen oë met ‘n sterk bespierde nek wat goeie verdonkering wys. Sy skrotum is goed gevorm, hang mooi en is baie glad. Die onderlyn vertoon ook mooi.

Daar is baie goeie bespiering aanwesig en die bul het “flair” – tipies wat ons sien met die goed gedefinieërde bespierde bulle. Sy lengte is uitstekend en hoogte/lengte verhouding is 1:21. Goeie lengte is een van die prioriteit teeldoelwitte by Hartebeestloop. Die bul is breed met goeie diepte deur die voorlyf en wys goeie kapasiteit met aanvaarbare sprong van rib. Sy aanpasbaarheid is ook goed en kyk gerus na dit wat belangrik is – vel, haar, skofontwikkeling, sterk bene en kloue, loopvermoë en algemene balans. Sy kruishelling is presies soos ons dit wil hê – helling is reg met goeie lengte en vol vleis op die kruisgedeelte. Die bul se pelvisindeks was van die beste in sy groep. As hy sulke kruishellings met groot pelvisse teel, is jy in die “pound seats”!

HART 09-203 het goeie teelwaardes wat mooi in balans is. Hy is op rasgemiddeld vir geboortedirek, vertoon goeie groei met volwasse gewig op die rasgemiddeld, baie goeie voerdoeltreffenheidseienskappe met “right-size, right type” liggaamsmates en goeie reproduksie waardes. Hy het uitstekend presteer in sy prestasietoetsing met Veldbul indeks (106), GDT (110), Kleiber (103) en groot pelvismates.

Ons het HART 09-203 opgeskryf as ‘n stoetbul. Hy het alles wat nodig is vir die stoetbedryf – uitstekende vleiseienskappe, beproefde stamboom, wys fenotipies alles wat belangrik is in stoetteling en presteer baie goed met die prestasietoetsing. Skryf hom ook maar op in jou boeke!




LOT 15: HART 09-063

    


LOT 15: HART 09-063

Hy is geteel uit BHE 04-035 en HART 07-098. BHE 04-035 is ‘n RCO 98-037 seun wat op die Fortress Bul uitverkoping veiling aangekoop is. Ons is baie tevrede met die kwaliteit van sy kalwers maar die bul is ongelukkig dood na ‘n slangbyt. Daar is egter baie goeie nageslag van hom nog in die kudde. HART 07-098 is geteel uit AG 03-353 (hy het ‘n baie sterk seun op die veiling) en BHE 05-006. BHE 05-006 is een van ons top koeie met TKP van 335 dae oor 6 kalwers. HART 07-098 se OEK is 21 mnde, TKP is 363 dae oor 3 kalwers, met RI van 127 en 100% stoetgoedkeuring van die 2 kalwers aangebied. Koeilyne is belangrik en die gesegde “A great sire has as a great dam” is en bly ons motto.

HART 09-63 is ‘n mediumraam “All Rounder” bul wat op beide koeie en verse gebruik kan word. Hy vertoon baie goeie bespiering – kyk gerus op die rug waar die oogspieroppervalkte groot gemeet het. Daar is goeie lengte, baie goeie breedte en mooi diepte deur die voorlyf. Die sprong van rib is sterk en die bul se kapasiteit is baie goed. Die vleiseienskappe is voortreflik – vol agter die blad, uitstekende agterkwart met vol binne en buite dye en goed gevul oor die lende en kruis. Die boudspiere is lank en heg laag op die hakke aan. HART 09-63 is ‘n baie manlike bul met sterk kop en oogbanke, sterk bespierde nek met goeie verdonkering en ‘n skrotum wat goed gevorm is en mooi hang. Skrotumomtrek is 34,1 cm. Sy kruishelling is so naby aan ideaal as wat kom en so ook sy skede/naelvel kombinasie.

Sy teelwaardes is baie goed – hy is laer as rasgemiddeld op geboortedirek, goeie voor- en naspeense groeisyfers met aanvaarbare doeltreffendheidsyfers en reproduksie teelwaardes. Hy doen uitstekend tydens die ekstensiewe groeitoets met Veldbul ekonomiese indeks 110, GDT indeks 105 en Kleiber indeks 113. Sy pelvismate is op die groep gemiddeld.

HART 09-63 is ‘n uitstaande bul en propvol stoetpotensiaal. Hy is as speenkalf top gepunt en identifiseer as potensiële stoetbul, hy behou die klassifikasie by die FASE D afsluiting, weer by die Veldbul afsluiting, tydens die “screening” op Hartebeestloop om te besluit watter bulle gaan veiling toe en weer tydens die besoek van Stoetvee Dienste se konsultante op Hartebeestloop. Hy het konstant goed vertoon vanaf speen tot nou en dit dra groot gewig by ons. Hy is nie ‘n “eye-popper” wat ‘n maand voor die veiling ewe skielik goed begin lyk met ‘n klomp voer agter hom nie. Stoettelers moet ernstig kyk na die bul.




LOT 16: HART 08-215

    


LOT 16: HART 08-215

Dit is elke teler se wens om ‘n kwaliteit bul te teel, genoeg vertroue in die bul te hê om dit self op sy top vroulike diere te gebruik en dan beskikbaar te stel aan die boere gemeenskap. HART 08-215 is geteel uit AG 04-175 wat ‘n groot impak op ons kudde het. Ek het AG 04-175 primêr en baie suksesvol gebruik om 14 maande oue verse oop te maak. As daar nou ‘n bul is wat ‘n bemarkbare dier uit verse kon teel, is dit AG 04-175. Hy het later te swaar geword vir die jong verse en HART 08-215 vir gebruik op jong verse. Hy het presies soos sy pa presteer en ons het hom sterk gebruik. Die moer is BHE 04-015 met OEK 29 mnde, TKP 402 dae oor 4 kalwers met speenindeks van 105 en RI van 108. Al haar kalwers aangebied, is stoetgoedgekeur. Sy speen haar kalwers teen gemiddeld 52,1% van haar liggaamsmassa.

HART 08-215 is ‘n mediumraam “All Rounder” bul wat op koeie en verse gebruik kan word. Ons het hom as spesialis versbul baie suksesvol gebruik op jong verse. Hy teel baie manlikheid met sterk koppe, goeie oogbanke en baie mooi skoon onderlyne en top skrotums. Sy pa is 14 op skrotum teelwaarde wat dubbel die rasgemiddeld is. HART 08-215 teel konstant uitstekende vel en haar, sterk toplyne, goeie kapasiteit en goeie diepte deur voorlyf en uitstaande lengte. Sy bespiering is goed sonder die sterk spierdefinisie – een van die eienskappe wat ons hoog aanslaan met die seleksie van spesialis versbulle. Sy bene is sterk met genoegsame breedte oor die hakke maar tog nog steeds fyn genoeg vir maklike kalwing van sy nageslag. Ek sou sy stertwortel uitlig as die enigste noemenswaardige eienskap wat beter kon wees.

Sy teelwaardes is tipies die van ‘n spesialis versbul. Soos wat sy nageslag deur prestasietoetsing kom, verwag ons dat die waardes al hoër sal word.

HART 08-215 behoort ernstig oorweeg te word deur stoettelers wat “vroeër paring” ‘n kans wil gee. Met die goeie reënjare groei die verse beter uit op jonger ouderdom en kan oorweeg word om hulle vroeër te paar. HART 08-215 teel werklik besondere nageslag uit die jong verse en is ‘n bul om sterk te oorweeg. Dit is nie altyd maklik om uit te staan tussen ongeveer 250 ander bulkalwers op Hartebeestloop nie en die kortlys te maak as gebruiksbul nie. Dit opsigself is al ‘n aanduiding van goeie kwaliteit. Stoettelers kan gerus na hom kyk met bogenoemde aanbevelings in gedagte en probeer plek maak vir hom in jou kudde. Hy is ook onverwant aan meeste ander bloedlyne wat alreeds in Namibië gevestig is.




LOT 17: HART 09-105

    


LOT 17: HART 09-105

Dit is belangrik om tyd te spandeer aan die WAT 04-339 wat die vaar is van HART 09-105 en ook ander bulle op die veiling. Van die beste verkopers op die 2011 veiling was ook van sy seuns. Net soos vir julle, is die “stoetwaarde” van bulle ‘n belangrike finansiële oorweging op Hartebeestloop. Bulle wat gemiddeld teel met enkele uitskieters, is sekerlik goeie bulle maar nie volwaardige stoetbulle nie. WAT 04-339 het ‘n 80% goedkeuring van al sy kalwers aangebied – en hy moes hom self ook maar opwerk van die gemiddelde koeie, tot beter koeie totdat sy nageslag bewys het dat hy ‘n kans moet kry by die “Royal Family” van koeie. Goeie bulle kom uit goeie moeders – nie net goeie moeders op reproduksie maar ook goeie moeders op bouvorm en spesifieke eienskappe wat belangrik is om bulle te teel. WAT 04-339 teel dié tipe vroulike diere wat potensiële bulmoeders is.

HART 09-105 se moeder is een van die uitsoekverse van NOSA Bonsmaras AEJ 04-192. Haar OEK is 31 mnde, TKP is 344 dae oor 6 kalwers, met RI van 116 en 100% stoetgoedkeuring van kalwers aangebied. Sy is ‘n stoetkoei wat haar registrasiefooie by die Genootskap en SA Stamboek regverdig.

HART 09-105 beindruk weens sy baie goeie diepte, besondere breedte en goeie lengte. Sy hoogte/lengte verhouding is 1:26 wat baie goed is en ver beter as die rasgemiddeld. Ekstra vleis en gewig is in die lengte en dit is hoog op ons prioriteitslys. Die bul het goeie kapasiteit met sterk sprong van rib. Sy manlikheidseienskappe is goed met sterk kop, goeie oogbanke en mooi verdonkering in die nek en voorkwart. Sy skrotum is goed gevorm en meet 36,5cm met hoë teelwaarde van 14,6. Sy aanpasbaarheid is baie goed met uitstekende vel en haar, goeie velvoue in die nek, mooi skofontwikkeling, lang stert en baie sterk bene en kloue. Op Hartebeestloop begin en eindig alles met bene en kloue! Hy vertoon ‘n uitstaande skede/naelvel kombinasie.

Hierdie bul se teelwaardes is uitstaande. Laer as rasgemiddeld op geboortedirek, baie goeie groei en voerdoeltreffendheid met uitstekende liggaamsmates en top reproduksie teelwaardes. Sy belangrike eienskappe soos Veldbul ekonomiese indeks (113), speen indeks (104), GDT indeks (129) en Kleiber indeks (119) maak hom ‘n Top Presteerder. HART 09-105 het baie goeie stoetpotensiaal! Jy kan hom op verse en koeie gebruik. Hy het tonne “blou bloed” in sy are. Ek is beindruk met die bul en voel dat stoettelers ernstig na hom moet kyk.




LOT 18: HART 08-240

    


LOT 18: HART 08-240


HART 08-240 is deur ons in die kudde as jong bul gebruik. Sy kalwers lyk uitstekend. Hy teel gladde vel en haar, goeie bespiering met veral baie mooi agterkwarte. Sy kalwers wys hierdie eienskappe konstant. Die Namibiese mark is vleis en gewig georiënteerd – agterkwarte, goeie bespiering en “vol beeste” is belangrik. Hy teel dit. Daar is 25 BLUP teelwaardes op Beefpro wat ook vleiseienskappe teelwaardes insluit. Hartebeestloop doen al vir langer as 7 jaar ultrasoniese skanderings en diere se waardes tov ons kuddegemiddeld is belangrik vir ons. HART 08-240 is op al die teelwaardes presies waar ons dit wil kry in die Hartebeestloop kudde. Hy was die ideale bul om as jong bul te gebruik.

HART 08-240 is ‘n mediumraam “All Rounder” bul wat op verse en koeie gebruik kan word. Ons het geen kalfprobleme met hom op jong verse gehad nie. Hy het uitstekende aanpasbaarheidseienskappe en behou sy konstitusie goed. Sterk bene en kloue is sekerlik van sy beste eienskappe – hy kan agter ‘n groot klomp koeie stap, veral in die duine. Sy bespiering, lengte, kapasiteit en breedte is goed. Sy skrotum is baie goed gevorm, hang uitstekend en is glad.

Sy teelwaardes is uitstekend met geboortedirek ligter as rasgemiddeld, baie goeie melkeienskappe met uitstekende groei en voerdoeltreffendheid en gebalanseerde liggaam mates met mooi reproduksie. Daar is baie kere dat jy liewers gemoedsrus wil koop en nie risiko’s wil vat nie. Ek gebruik die beginsel baie in my besluitneming tov buulaankope.

HART 08-240 is ‘n “gemoedsrus” bul vir die stoetboer.




LOT 19: HART 08-265

    


LOT 19: HART 08-265

Hy is geteel uit AG 04-175 wat ook op die veiling as beproefde stoetvaar verkoop word. Hy is ook die halfbroer van HART 08-215 wat in die kudde gebruik is en ook nou op die veiling aangebied word. Lees gerus meer oor sy pa by die beskrywing van AG 04-175.

Sy ma (BHE 99-163) was ‘n uitsonderlike koei met OEK 30 mnde, TKP 406 dae oor 7 kalwers met speenindeks van 106 oor 7 en RI van 107. Haar 7 kalwers sluit 6 bulkalwers in en al 7 word stoetgoedgekeur. Dit is mos die definisie van ‘n stoetkoei! Haar 2 bulkalwers by ons word teen N$ 51 000 gemiddeld verkoop en doen uitstekend by hulle nuwe eienaars. Sy het konstant baie goed geteel tot sy uitgeskot is op tande. Sy was as ‘n superieur koei uitgewys deur die LNR.

HART 08-265 is ‘n mediumraam “All Rounder” bul wat op beide verse en koeie gebruik kan word. Jy sal opmerk soos jy deur die katalogus lees dat meeste Hartebeestloop bulle as “All Rounders” geklassifiseer is. Alhoewel ons voorsiening maak in die teelbeleid vir spesialisbulle, is ons gerig in die mark om bree spektrum “All Rounder” maklik-om-mee-suksesvol-te-boer-bulle te produseer. HART 08-265 is ‘n kwaliteit bul met baie goeie spierdefinisie. Hy sal enige plek aard en sy konstitusie behou. Hy het goeie breedte, genoegsame diepte deur die voorlyf en mooi kapasiteit. Kyk gerus na sy manlikheid – kop sterk, oogbanke goed gevorm, breed tussen die oë, goeie verdonkering en haarlose skrotum wat goed gevorm is en simmetries hang. Hy staan uit op aanpasbaarheidseienskappe – vel, haar, skof, goeie kruishelling en vele meer. Sy stertaanhegting kon beter gewees het.

Hierdie bul se teelwaardes is net waar ons dit wil hê – laag op geboortedirek, baie sterk op melk, goeie groei met aanvaarbare doeltreffendheid en reproduksie teelwaardes. HART 08-265is ‘n potensiële stoetbul en is al so ge-identifiseer vanaf speenouderdom. Gelukkig het hy ontwikkel soos ons gehoop het. Hy is weereens tydens die pre-veiling evaluasie top gepunt deur al die konsultante. Hy het houding, is bewus van wat om hom aangaan, staan nie terug vir ‘n goeie jong bul rondstamp en stoot met die ander bulle nie en draf altyd voor as hulle aangejaag word.

Stoettelers moet goed kyk na HART 08-265 – hy bring ‘n klomp baie sterk eienskappe saam na die kudde. By ons is hy aangeteken as ‘n bul wat die eienskappe wat die hedendaagse Bonsmara uitbeeld, “big time” saam bring. Kyk gerus of jy kan plek maak vir hom in jou kudde. Jy het ons woord en voorspellings vir hom!




LOT 20: HART 08-245

    


LOT 20: HART 08-245


HART 08-245 is een van dié bulle op die veiling. Die goeie bespiering, diepte deur die voorlyf, breedte, sprong van rib en kapasiteit is wat dadelik op val. Hy is uitstekend in balans, loopvermoë is baie goed, toplyn is sterk, oogspieroppervlakte is beter as die rasgemiddeld,en kruishelling is baie goed. HART 08-245 is propvol vleis – vanaf die vol kruishelling, lende areas, agterkwart en baie vol agter die blad. Jy kan nie sommer beter kry in terme van vleisbeesbul kwaliteite nie. Die bul vertoon uitstekende manlikheid – sterk in die kop, breë bek, goeie oogbanke – mooi pigment en goeie verdonkering in die nekgedeelte. Sy skrotum hang perfek en is baie goed gevorm. Dit meet 36,3 cm met teelwaarde van 7.7. Al sy aanpasbaarheidseienskappe is baie goed – baie gladde vel en haar, baie goeie skofontwikkeling met sterk bene en baie goeie kloue. Dit is werklik moeilik om die bul te kritiseer op fenotipiese eienskappe.

Sy teelwaardes is ook baie goed – geboortegewig laer as rasgemiddeld, goeie voor- en naspeense groei, baie goeie melk maternaal en uitstaande reproduksie teelwaardes. Hy doen ook baie goed met Veldbul ekonomiese indeks van 112 en Kleiberindeks van 106.

HART 08-245 is ‘n vroegryp, klipharde, mediumraam, “All Rounder” bul met baie goeie stoetpotensiaal. Ek het sy stoetpotensiaal identifiseer oor ‘n lang tydperk tydens die prestasietoetsing en sy uitgroei proses op die veld – ek mis baie selde ‘n goeie bul! Hy behoort na ‘n top stoetteler te gaan wat HART 08-245 se kwaliteite maksimaal in sy kudde gaan gebruik.




LOT 21: HART 09-123

    


LOT 21: HART 09-123


Behalwe HART 09-123 het sy nog 2 bulkalwers wat albei baie hoog gepunt is. Haar OEK is 28 mnde, TKP van 400 dae oor 4 kalwers, speen hulle teen 48,5% van haar liggaamsmassa en het 100% stoetgoedkeuring.

HART 09-123 is ‘n bul met baie goeie kwaliteite. Opvallend is sy baie sterk manlike eienskappe. Kop is manlik, nek is baie sterk, goeie oogbanke, breed tussen die oë, breë bek, mooi verdonkering en uitstekende skrotum wat mooi gevorm is en baie mooi simmetries hang. HART 09-123 is ‘n lang bul met hoogte/lengte verhouding van 1:22 – ver bo rasgemiddeld. Nieteenstaande die lengte is die toplyn baie sterk met ‘n oogspieroppervlakte wat baie, baie beter as die rasgemiddeld is. Op Hartebeestloop doen ons al vir baie jare ultrasoniese skandering. Ek heg waarde aan die metings weens die grootte van die databasis wat al opgebou is oor die jare. ‘n Groot genoeg oogspier wat deurstrek en in die skofarea in loop, hou ‘n lang bul se toplyn sterk. Die bul is breed reg deur, het genoeg diepte deur die voorlyf en vertoon goeie kapasiteit met baie goeie sprong van rib. HART 09-123 se middelstuk is ‘n toonbeeld van wat alle Bonsmara telers behoort na te streef. Kyk ook hoe mooi is die skede/naelvel kombinasie. Die bul het alle karkaseienskappe om van hom ‘n wenner te maak – hy dra baie vleis. As ek iets kon kritiseer, sou dit sy hakke wees. Dit kom van sy ma wat effe regop in die hakke is.

HART 09-123 het baie goed gebalanseerde teelwaardes. Alhoewel hy swaarder is as rasgemiddeld op geboortedirek is, sal ek hom wel op goed uitgegroeide verse van 24 maande oud gebruik. Sy groeisyfers asook doeltreffendheidswaardes is baie goed. HART 09-123 is ‘n Top Presteerder tydens prestasietoetsing met Veldbul ekonomiese indeks van 110, speenindeks van 104, GDT indeks van 114 en Kleiber indeks van 112. Sy pelvisindeks is op die groepsgemiddeld.

HART 09-123 is propvol stoetpotensiaal. Daar is ‘n klomp ou goud in sy stamboom – nie net van RSA genetika maar ook van die bestes in Namibië. Hierdie bul “brings a lot to the party” en voornemende kopers moet hom sommer dadelik op die kortlys sit.




LOT 22: HART 08-256

    


LOT 22: HART 08-256


HART 08-256 is ‘n mediumraam, dik bul met baie goeie bespiering. Hy is ‘n tipiese vroegryp, kompakte en klipharde bul wat op enige plek sal presteer. Opvallend is sy sekondêre manlikheidseienskappe met baie sterk kop, breë bek, breed tussen die oë en goeie oogbanke. Kyk gerus na die dik, kompakte nek met goeie verdonkering. Sy skrotum is perfek, hang simmetries en meet 35.3cm. Die bul het ‘n baie goeie onderlyn met baie mooi skede/naelvel kombinasie. Hy vertoon baie goeie balans, sterk middelstuk met goeie sprong van rib, goeie breedte en lengte, goeie kapasiteit en ‘n sterk toplyn. Dit is opvallend om te sien hoe sterk die bul op sy rug is. Sy aanpasbaarheid is van die beste wat ons teel op Hartebeestloop – uitsonderlike vel en haar, goeie skofontwikkeling, lang stert en sterk bene en kloue. Dit is belangrik dat voornemende kopers kyk na die vleiseienskappe van hierdie bul – agter sy blad, baie mooi agterkwart en vol op die lende. Hy is tipies die “right size, right type” Bonsmara bul waarna telers verwys.

HART 08-256 presteer baie goed tydens prestasietoetsing. Sy indekse vir Veldbul toets (110), GDT (99), Kleiber (103) en pelvis (103) plaas hom in die 1ste span. Sy teelwaardes is ook baie goed gebalanseerd met effe swaarder op geboortedirek (+1kg), baie goeie groei, aanvaarbare doeltreffenheid en goeie reproduksie teelwaardes.

HART 08-256 is ‘n potensiële stoetbul. Die enigste probleem is die klein wit kol onder op die pens wat stoettelers dalk mag laat twyfel as hulle alreeds met ‘n kleur probleem in kudde sit. As jy die kolletjie wit kan hanteer in jou kudde moet jy deeglik besin oor die ander kwaliteite van die bul. HART 08-256 is ‘n toonbeeld van die hedendaagse Bonsmara wat met rasse skrede die tradisionele “ander ras bulle” markte in Namibië betree. Op elke keuring en FASE D groeitoets afsluiting, wys die genooide gaste hierdie tipe bulle uit as dié wat presteer onder ekstensiewe toestande.

As jy bulle wil teel wat die mark vra en benodig, dan moet jy ernstig kyk na HART 08-256. As hy teel soos hy lyk en soos wat sy pa geteel het, is jy in die “pound seats”.




LOT 23: HART 09-136

    


LOT 23: HART 09-136


HART 09-136 is een van daardie tipe bulle wat nog baie goed verder gaan ontwikkel. Hy kort miskien nog 6 maande vir manlikheid om goed deur te slaan en liggaam om finaal in “shape” te kom. Hy is ‘n mediumraam bul wat op koeie en verse gebruik kan word. Hy wys nou alreeds baie sterk manlikheid met sterk kop, goeie oogbanke, sterk ontwikkelde nek met mooi verdonkering en ‘n uitstekende skrotum. Die skrotum meet 39,2cm met teelwaarde van 12.5, hang mooi simmetries en is glad. Baie lang bul met hoogte/lengte verhouding van 1:23, goeie diepte, genoeg bespiering en goeie breedte deurgaans. Hy is goed aanmekaar gesit met goeie balans. Sy bene en kloue is van baie goeie kwaliteit.

Daar is baie goeie aanpasbaarheidseienskappe met vel en haar van uitstekende kwaliteit. Sy toplyn is goed met ‘n oogspieroppervlakte wat ver beter as rasgemiddeld is. HART 09-136 dra baie vleis en vertoon vol – veral by die blad en agterkwart. Ek sou graag die naelvel minder vlesig wou hê.

Sy teelwaardes is uit die boeke. Minimaal swaarder as rasgemiddeld op geboortedirek, baie goeie groei, uitstaande voerdoeltreffendheid, regte liggaamsmates en baie goeie reproduksie teelwaardes. Hy is ‘n Top Presteerder met Veldbul ekonomiese indeks (120), GDT indeks (116), Kleiber indeks 110 en pelvisindeks 104. Hulle presteer nie sommer beter as dit nie!

HART 09-136 is by ons ge-identifiseer as jong bul met stoetpotensiaal. Daar is regtig goeie kwaliteite in die bul – vanaf fenotipiese korrektheid, vleiseienskappe, teelwaardes, stambome en algehele prestasie tydens die toets van ekonomiese voordelige eienskappe. In 2009 verkoop ons ‘n soorgelyke jong bul HART 07-027 aan Edward Hansen van EMOK Bonsmara. Hy is vandag een van die ysterbulle by Edward. Kopers moet baie goed na hom kyk – dit mag dalk die koop van die dag wees!




LOT 24: HART 08-247

    


LOT 24: HART 08-247


HART 08-247 is ‘n bul wat uitsonderlike kapasiteit vertoon. Hy vertoon deurgaans baie goeie breedte, uitsonderlike diepte, goeie lengte en baie goeie bespiering. Hy is veral baie sterk in die middelstuk met baie goeie sprong van rib. HART 08-247 het baie sterk manlikheidseienskappe – sterk kop, goeie oogbanke, goeie breedte tussen die oë, van die beste bespierde nekke op die veiling met mooi verdonkering, en perfekte skrotum in vorm, simmetrie en posisie wat 35,7cm meet. Hy is ‘n “vol bul” – dra baie vleis en is oor die algemeen baie sterk op vleiseienskappe. Ons wil mos binne perke meer vleis aan die raamwerk pak sodat daar meer gewig en ‘n groter inkomste vir ons kommersiële boere is. Dit is waaroor stoetteling gaan – die skep van ‘n beter dier vir die kommersiële boer waarmee volhoubaar geboer kan word en optimale wins verdien kan word. Ons was beindruk met hom vanaf jong kalf en het sy vordering goed dopgehou. Hy is as jong bul in die stoet gebruik en sy eerste kalwers het reeds aangekom. Hy teel diep kalwers met goeie bespiering. Hy teel baie soos hy lyk en sy kalwers staan uit.

HART 08-247 wys goeie teelwaardes. Hy is minimaal swaarder as rasgemiddeld op geboortedirek, het oorgenoeg melk, goeie groei wat afplat na presies rasgemiddeld van 4 op Volwasse Gewig, goeie voerdoeltreffendheid en baie goeie reproduksie teelwaardes. Hy presteer orals goed – wat ons ookal gemeet het.

As ek ‘n stoetbul koop probeer ek die risiko’s so laag as moontlik hou. Stambome is belangrik – dit het hy van oupa (AG 98-338), pa AG 02-027 en sy “Excellent” ma. Sy halfsusters is van die top presteerders in die kudde gemeet aan OEK, TKP en kwaliteit bemarkbare nageslag geproduseer. Sy eie gemete prestasies is goed, sy teelwaardes is goed en sy nageslag lyk baie belowend. Ek weet dat die koper wat met HART 08-247 plaas toe gaan ‘n wesenlike bydrae tot sy kudde, die Bonsmara stoetbedryf en die vleisbees industrie in die algemeen gaan maak. Hy is een van dié top bulle op die veiling!




LOT 25: HART 09-160

    


LOT 25: HART 09-160

HART 09-160 is ‘n kombinasie van TOP RSA genetika gekombineer met uitstaande Namibiese aanpasbaarheid.

HART 09-160 is ‘n mediumraam “All Rounder” bul wat op koeie en verse gebruik kan word. Hy vertoon baie goeie kapasiteit met veral ‘n uitstekende middelstuk en genoegsame breedte reg deur. Die bul dra baie vleis in die agterkwart, sy dye is vol en die vleis kom tot laag af op die hakke, hy is vol agter die blad met lende wat goed vol vleis is. Sy teelwaarde vir vleisopbrengs is baie beter as rasgemiddeld. Deur en deur ‘n bul met goeie vleiseienskappe. Die hoogte/lengte verhouding van 1:19 is beter as rasgemiddeld en nieteenstaande die goeie lengte is die toplyn sterk. HART 09-160 vertoon ‘n goeie kruishelling, lang stert en ‘n goeie onderlyn. Sy aanpasbaarheid is uitstekend – kyk na gladde vel en glansende haar, goeie skofontwikkeling en sterk bene en kloue. Jy kan nie beter nie. Sy skrotumomtrek is 41.1cm, is goed gevorm, hang perfek en het teelwaarde van 17,1 wat ver bo die rasgemiddeld is.

Die bul het uitstekende teelwaardes – laag op geboortedirek, baie goeie melkeienskappe, goed op groei en doetreffenheid met top teelwaardes vir kalftempo en skrotum. Kalftempo wys hoeveel van sy halfsusters was goed genoeg om in die kudde aan te bly as toekomstige teelkoeie. Hy presteer baie goed tydens die Veldbul toets (117 indeks ), groeitoets (GDT indeks 102) onder ekstensiewe toestande en met pelvismetings (109 indeks). Daar waar dit ekonomies belangrik is, staan hy onder die voorstes!

HART 09-160 is ‘n potensiële stoetbul en sal deur die slim teler gebruik word om verse oop te maak. Hy sal genoegsame kapasiteit, goeie groei en vrugbaarheid aan die kalwers gee – hy behoort kwaliteit en bemarkbare kalwers uit jou verse teel. Ons het tydens die 2011 Bonsmara Raspromosiedag gehoor dat dit die 3 mees algemeenste eienskappe is wat sukses verseker. Stoettelers wat uitkyk vir ‘n sterk versbul moet hom beslis oorweeg.




LOT 26: HART 09-016

    


LOT 26: HART 09-016

HART 09-16. Hy is aan vaderskant uit AG 98-338 en moederskant RCO 98-037. Dit kombineer die beste uit 2 wêrelde.

HART 09-16 is geteel uit AG 02-027 en HART 05-040. Haar OEK is 25 mnde, TKP van 396 dae oor 4 kalwers, gemiddelde speenindeks van 121 en sy speen haar kalwers teen 53,8% van haar liggaamsgewig. Voorwaar ‘n sterk Kalahari koei.

Hierdie bul is ‘n toonbeeld van goeie kapasiteit gekombineerd met goeie lengte. Hy is breed reg deur, veral op die rug waar die oogspieroppervlakte ver beter as rasgemiddeld is. Hy is diep deur die voorlyf met goeie sprong van rib. Hy dra baie vleis – of soos die ou mense sou sê “hy is ‘n vol bul”. Kyk na die binne en buite dye, die lende wat vol is, vol agter blad en area bokant die lyn van sitbeen na heupbeen wat vol duur vleis is. Hy het ‘n uitstekende agterkwart – kyk hoe laag heg die boudspier aan die hak. Sy manlikheid is uit die boeke – sterk oogbanke, goeie verdonkering en goeie skrotum wat 36,2cm meet. Sy skede/naelvel kombinasie is baie goed. Jy hoef die bul net een kyk te gee om ‘n prentjie te kry van wat aanpasbaarheid behels. Daar is niks wat ek hom op kan kritiseer nie.

Sy teelwaardes is ook uit die boeke! Laag op geboortedirek, oorgenoeg melk, goeie groei, hoë doeltreffendheid en uitstekende reproduksie teelwaardes. Hy presteer goed tydens die prestasietoetsing en sy ekonomiese belangrike eienskappe is almal goed gepunt. Hy kan op uitgegroeide verse en koeie gebruik word.

Stoettelers moet baie goed na HART 09-16 kyk. Die bul het uitsonderlike kwaliteite en sal ‘n groot impak maak op menige kuddes. Ons praat van karkasopbrengs, uitslagpersentasies en vele ander terme wat vir die kommersiële boer ekonomiese oorlewingswaarde het. Hierdie bul vat dit alles saam en het dan op die koop toe nog sterk stoetpotensiaal ook. Hy is ‘n sprekende voorbeeld van wat stoettelers soek om tekortkominge in die kudde (ons het dit almal) reg te maak en dan die karkas propvol vleis te pak. Ons is op rekord dat hierdie bul en sy nageslag nog ‘n groot impak gaan maak vir die Bonsmara in Namibië of waar ookal hy gaan.




LOT 27: HART 09-015

    


LOT 27: HART 09-015

HART 09-15 is die 1ste kalf van HART 07-074. Haar OEK is 22 mnde, met TKP van 354 dae oor 3 kalwers, Reproduksie Indeks (RI) van 126 en 1/1 stoetgoedkeuring. Tipies van die nuwe generasie Hartebeestloop verse om vroeër te kalf en dan konstant verder goed te reproduseer.

HART 09-15 is ‘n toonbeeld van manlikheid met sterk oogbanke, breë bek en baie sterk kop. Hy is pure bul met stewige nek en goeie verdonkering. Sy skrotum is uitstekend gevorm en hang perfek – dit meet 36,7cm met teelwaarde van 12.2. BHE 02-074 teel konstant goeie skrotums van genoegsame grootte en ons verwag dieselfde van HART 09-15. Sy aanpasbaarheidseienskappe is uitstekend en dit is waar die bul besonder sterk is. Vel en haar kan nie beter nie – hy is seepglad en blink. Skofplasing en skofontwikkeling is baie goed. Bene is sterk met genoegsame breedte oor hakke. Sy Veldbul en Kleiber indekse is 114 en 102 onderskeidelik. Orals waar hy onder veldtoestande getoets is, het HART 09-15 uitstekend gevaar. Daar is genoeg bespiering met oogspieroppervlakte wat bo rasgemiddeld meet. Toplyn, breedte regdeur en kapasiteit is baie goed. Die skede en naelvel is aanvaarbaar.

Hierdie bul se teelwaardes is aan die lae kant maar as 1ste kalf van 22 maande oue vers was sy eie prestasies goed tydens prestasietoetsing. Dit sluit in genoegsame groei tydens groeitoets en groot pelvismate. Ek verwag dat sy BLUP teelwaardes sterker sal word soos sy nageslag se prestasies gemeet word.

HART 09-15 is ‘n vroegryp “All Rounder” bul wat met groot sukses op koeie en jong verse (14 mnde) gebruik kan word. Met sy soepel bespiering en bouvorm is jy verseker van kalfgemak. Die halfsusters van HART 09-15 uit BHE 02-074 is van die mees vrugbaarste lyne in die Hartebeestloop kudde wanneer OEK en TKP as maatstawe gebruik word. Kyk baie goed na die bul – hy het genoeg van alles om uitstekend te doen in meeste kuddes. Boere wat geharde diere wil teel wat goed veldaangepas is en orals sal presteer, moenie eers verder kyk nie.




LOT 28: HART 09-045

    


LOT 28: HART 09-45

Hy is geteel uit AG 98-338 en HART 06-004. Sy is ‘n suiwer Namibiese koei met geen RSA genetika in haar laaste 3 generasie stamboom. HART 06-004 se OEK is 24 mnde, TKP van 362 dae oor 4 kalwers, RI van 120 en sy speen teen 45,7% van haar liggaamsmassa. Hierdie selektiewe paring het uitstekend gewerk en dit kan duidelik gesien word in die kwaliteit van HART 09-45.

Hier is ‘n tipiese mediumraam “All Rounder” bul wat op jong verse en koeie gebruik kan word. Sy bouvorm, bespiering en teelwaardes is van so ‘n aard dat hy suksesvol gebruik kan word om jong 14 mnde oue versies te open. Daar is genoegsame bespiering – dit is egter soepel van aard en nie so hard en duidelik gedefinieërd om kalfprobleme te veroorsaak nie. Hy is ook glad oor sy skouerknoppe wat ‘n aanduiding is van min kalfprobleme. Daar is goeie lengte, mooi diepte deur die voorlyf en genoeg breedte om goeie kapasiteit te verseker. Sy toplyn is sterk, skofontwikkeling is baie goed, kruishelling is regte “slope” met goeie lengte en vol vleis oor die kruisarea, stert is lank en bene en kloue is uit die boonste rakke. Hierdie bul se vel en haar is ‘n kyk-weer area – van die heel beste in die vleisbeesbedryf!

HART 09-45 gaan orals aanpas en presteer. Hy is ‘n toonbeeld van manlikheid met sterk kop en goeie oogbanke, sterk bespierde nek met mooi verdonkering in die voorkwart. Sy skrotum is goed gevorm en hang mooi. Dit meet 33,4cm.

Die teelwaardes is tipies van ‘n bul wat op baie jong verse gebruik kan word. Geboortedirekte waarde is baie laer as rasgemiddeld (hy weeg 30kg met geboorte) en sy groeiwaardes is ook tipies van ‘n versbul. As jy egter kyk na sy prestasies tydens die Veldbul toets en die ekstensiewe groeitoets is dit ‘n perd van ‘n ander kleur. Hy is ‘n Top Presteerder met ‘n Veldbul ekonomiese indeks (116), GDT indeks (102), Kleiber indeks (109) en pelvisindeks (101). Alhoewel hy baie lig was met geboorte, trap hy vas en stof baie ander bulle uit tydens prestasietoets meting.

HART 09-45 is selektief geteel as ‘n spesialis versbul. Daar word baie gepraat oor die kalwers van verse wat altyd bietjie swakker is as die kudde standaard en min van hulle word “iets”. HART 09-45 gaan vir jou daardie “iets” uit verse teel. Kyk gerus na sy prestasietoets data en weet dat daar groei in oormaat is, aanpasbaarheid op die veld, groot pelvismates en klomp woema in die bul. Stoettelers moet voorsiening maak en hom selektief paar vir sy lae skrotum teelwaarde.




LOT 29: HART 09-82

    


LOT 29: HART 09-82

HART 09-82 met groot sukses in die Hartebeestloop stoet gebruik om jong verse oop te maak. Ek het sy oupa RCO 98-037 by Ian en Jan Lourens van Jay-El Bonsmaras gesien en was beindruk met hom. Ons het verskillende kombinasies probeer met RCO 98-037 nageslag op Namibiese koeie. Hart 08-082 is geteel uit HJS 03-016 en NGO 00-069 – sy is ‘n tipiese meer Bos indicus koei. Die kombinasie werk uitstekend en daar is nog sulke seuns op pad. NGO 00-069 kom uit Woestyn Bonsmaras waar haar data nie op datum gehou is nie. Haar TKP is 436 dae met haar laaste 4 TKP’ s op Hartebeestloop 400, 387, 383 en 367 dae onderskeidelik. Sy kalf op 30 mnde en speen 7 kalwers teen 102 indeks teen 47,7% van haar massa. Sy het ‘n 83% goedkeuring van haar kalwers. Ek verkoop 2 bulkalwers en 1 verskalf van haar vir ‘n totale bedrag van N$ 207 000.00. Sy is ‘n yster koei.

HART 09-82 is ‘n vroeg ryp mediumraam bul wat op verse en koeie gebruik kan word. Hy vertoon uitstaande kapasiteit, goeie balans met baie goeie bespiering. Seker een van die breedste bulle op die veiling – met sterk toplyn, goeie kruishelling en sterk bene. Hy vertoon baie manlik – kop is sterk, oogbanke is goed ontwikkel, verdonkering is aanwesig en skrotum is uitstekend (37,1 cm in omtrek). HART 09-82 het baie goeie hoogte/lengte verhouding van 1:21 en die ekstra vleis en gewig is in die lengte. Sy onderlyn is baie goed met perfekte skede en naelvel. Hy vertoon ook uitstekende aanpasbaarheidseienskappe – vel en haar is perfek, vel is 17mm dik, skof is goed ontwikkel en kloue is sterk. Jy kan nie beter vleiseienskappe verwag as wat hy wys nie. Daar is nie ‘n plek wat hy nie propvol vleis is nie. Ons almal het mos ten doel om karkasopbrengs en uitslagpersentasie te verbeter.

Sy teelwaardes is weereens baie goed gebalanseerd en jy kan duidelik sien dat hy ook as versbul vir jong verse gebruik kan word. Geboortedirek is onder die rasgemiddeld, daar is genoeg melk en beide voorspeense en naspeense groei is genoegsaam.

HART 09-82 is vroeg ge-identifiseer as moontlike stoetbul wat self gebruik gaan word in die Hartebeestloop kudde. Hy is onverwant aan meeste van ons bloedlyne en ek is nie bewus van enige ander RCO 98-037 bloedlyne in Namibië nie. Hy het uitstekend geteel by ons en die kalwers lyk soos hy – dik, breed, goed bespierd met alreeds alle tekens van uitstaande kapasiteit. Daar is min bulle wat ek gesien het wat dié kwaliteit kalwers uit 1ste kalf verse teel. HART 08-82 behoort na ‘n top stoetkudde te gaan waar sy eienskappe en kwaliteite tot voordeel van die Bonsmara ras gebruik kan word. Ek kan hom met geruste hart aanbeveel – en doen ook so!




LOT 30: HART 09-162

    


LOT 30: HART 09-162


HART 09-162 is deur ons gebruik as jong bul in die kudde. Hy is geneties onverwant aan die kudde en het sekere eienskappe wat ons graag in die kudde wil vas lê. Hy is ‘n mediumraam bul wat op koeie en uitgegroeide verse gebruik kan word. Hy is ‘n manlike bul met goeie houding en sterk kop. Sy oogbanke is goed ontwikkel, sterk nek met goeie verdonkering, breë bek en goed gevormde skrotum wat netjies hang. HART 09-162 wys goeie bespiering, goeie diepte deur die voorlyf, mooi middelstuk met goeie sprong van rib en genoegsame breedte. Die toplyn is sterk en eindig in goeie kruishelling en stertaanhegting.

Hy het dieselfde aanpasbaarheidseienskappe as sy ma. Sy vel en haar is goed, skofontwikkeling is mooi, bene is sterk en sy onderlyn is goed met goeie skede/naelvel kombinasie. Ek was beindruk met sy vermoë om te presteer tydens ekstensiewe toetsing. Hy speen op slegs 181 kg (Hartebeestloop se gemiddeld vir bulkalwers is 251kg), sy ma het sekerlik gesukkel aanvanklik met aanpassing. Tydens die prestasietoetsing behaal hy ‘n Veldbul ekonomiese indeks van 108, GDT indeks van 109 en Kleiber indeks van 109. Hy begin agter maar vang op en eindig beter as die groepsgemiddeld – dit wil gedoen wees! Hy gaan baie goed presteer op die veld en altyd in goeie kondisie wees.

Sy teelwaardes is ook goed – swaarder as rasgemiddeld op geboortedirek, goeie melk en groei-eienskappe met aanvaarbare doeltreffendheid en reproduksie teelwaardes.

Dit is altyd goed om onverwante genetika in jou kudde te bring. Dit maak paringsbesluite en algemene bestuur net soveel makliker, veral in stoetteling waar ons almal sensitief staan teenoor inteling. HART 09-162 het baie goeie eienskappe geteel in die Hartebeestloop kudde en hy is definitief ‘n bul wat sterk oorweeg moet word




LOT 31: HART 09-185

    


LOT 31: HART 09-185


HART 09-185 is ‘n mediumraam “All Rounder” bul wat op koeie en verse gebruik kan word. Hy het besonderse lengte met hoogte/lengte verhouding van 1:23. Toplyn is sterk, bespiering is uitstekend, bul het breedte reg deur en genoegsame kapasiteit. Hy is baie sterk op sy agterkwart en vertoon oor die algemeen baie goeie vleiseienskappe. Sy kop is sterk met baie goeie oogbank ontwikkeling, breed tussen oë en sterk bek. Sy skrotum is uit die boeke – meet 37.3cm met teelwaarde van 20.2. Dit hang perfek en is baie goed gevorm. Sy skede/naelvel kombinasie is ook baie goed. Hierdie bul sal orals aanpas – kyk sy glansende vel en haar, goeie skof en baie sterk bene en kloue. Hy maak ‘n mooi prentjie van hoe ‘n bul moet lyk en hoeveel vleis hy moet dra.

Sy teelwaardes is ook goed gebalanseerd. Hy is laer as rasgemiddeld op geboortedirek, goed op groei en voerdoeltreffendheid, baie goed op liggaamsmates en uitstaande op reproduksie teelwaardes. Ons teelbeleid van kalfgemak, goeie lengte met baie vleis (gewig) en genoegsame groei met hoë reproduksie potensiaal is omtrent ‘n gegewe by alle veilingsbulle. HART 09-185 is nie ‘n uitsondering nie en val baie mooi in plek met sy teelwaardes.

HART 09-185 is ‘n jong bul wat stoetpotensiaal wys. Kyk gerus na hom as jy lengte, bespiering, goeie skrotums, manlikheid en vleispotensiaal in die kudde wil regmaak of inbring. Die groot voordeel van HART 09-185 is dat hy geen ander eienskap nadelig behoort te beinvloed terwyl hy vir korrektiewe paring gebruik word nie. Die spesifieke WAT-bloedlyn (vaderskant) is relatief onverwant in Namibië en so ook die HJB moederlyn wat gebruik is in die paring. HART 09-185 is dus ‘n lyn waarop telers kan voortbou en onverwant bly. Die feit dat hy stoetpotensiaal wys behoort nie die ernstige kommersiële teler af te skrik nie. Daar is hope “stoetpotensiaal” Bonsmara bulle in gebruik by kommersiële telers en dit is een van die redes waarom daar so ‘n groot groei in die aanvraag na Bonsmara beeste is.




LOT 32: HART 07-037

LOT 32: HART 07-037

    


HART 07-37 is ‘n silwer meriete fase C getoetste kuddevaar wat sterk gebruik is op verse deur Komaweer Bonsmaras gedurende die afgelope 3 jaar.

Met meer as 70 nageslag wat aangekom het tot dusver voel ons dat bul ‘n bydrae kan maak in ’n ander kudde in Namibië en bied hom daarom aan op veiling. Vaar van HART 07-37, naamlik CEF 03-322 kom uit die bekende RCO 98-037 lyn wat verskeie top kuddevaars opgelewer het in Suid Afrika en nou in besit is van Jay-El Bonsmaras van Vrede in die Vrystaat.

CEF 03-322 is deur Hartebeestloop Bonsmaras gebruik in kudde en het werklik voldoen aan die term “kurweknakker” of soos oom Eddie Reed, alombekend in Namibië as stoetveeafslaer, dit noem, “kurktrekker”! HART 07-37 is ‘n bul met goeie vel en haar, diepte, kapasiteit en bespering en met sy teelwaardes en geboortegewig van 29 kg is dit die ideale bul om te gebruik op verse.

Sy skrotum is goed aangeheg en bul het ook besonderse mooi naelvel en skede kombinasie. Op 5 jaar is hierdie bul regtig in die fleur van sy lewe en kan aanbeveel word vir enige stoetteler.




LOT 33: ERH 09-120

LOT 33: ERH 09-120

    


Hierdie LMR 05-092 seun se kapasiteit en diepte trek dadelik jou aandag en is hoog aangeskryf deur Kiep en Barend tydens hulle besoek aan Maitland. Van kleins af het hierdie bul uitgestaan tussen die ander kalwers en sy lengte, middelstuk, binne en buite dye en bespiering is ook uitsonderlik.

Skrotum is goed gevorm en skede is ook aanvaarbaar. Vaar van bul LMR 05-092 kom uit die Limerick Bonsmara kudde van Paul Mare van Viljoenskroon en word nog steeds as kuddevaar gebruik deur Hartebeestloop Bonsmaras.

Ma van ERH 09-120 het sover 3 kalwers gespeen teen 105 en is nog steeds in kudde. ERH 09-120 het ‘n gekorrigeerde speengewig van 266 kg (Speendindeks 109) en het ook uitstekend gegroei tydens FASE D met ‘n GDT indeks van 117. Sy teelwaardes is bo die rasgemiddeld vir speen direk, 12 en 18 maande en behoort swaar speenkalwers sowel as osse te teel. Ons sal aanbeveel dat hierdie bul slegs op koeie gebruik word en glo hierdie bul sal ‘n aanwins wees vir enige teler in die land.




LOT 34: WAGB 09-054

LOT 34: WAGB 09-054

    


Hier is die perfekte mediumraam vleisbul! Die bul het ’n lekker sterk manlike kop met goeie oogbanke, prominente nek en goeie skof ontwikkeling. Die bul se toplyn is puik en sluit af met ’n uitstekende bespierde agterkwart.

Die bul toon baie goeie kapasiteit, sprong van rib en diepte. Sy bene is sterk met goeie kloue wat gemaklik in enige terein kan loop om sy werk te gaan doen. Die bul het ’n goed gevormde skrotum en het ook baie goeie sekondere manlike ontwikkeling. Kyk maar na die puik verdonkering by sy nek en agterkwart. WAGB 09-54 kom uit puik bloedlyne. Aan sy ma se kant is hy uit die Dr Piet Basson kudde. Die moederlyn toon baie goeie vrugbaarheid. Sy het 11 Kalwers in 14 jaar gekry. Haar reproduksie indeks is 103 en gemiddelde speen indekse van haar kalwers 96. Haar interkalf periode is 426 dae. Dit is merkwaardig vir ’n 14 jarige koei. Aan die vaderkant, is hy uit die Leon Lisa lyne met AG 930210 aan die oupa grootjie kant. Die bul se pa is WAGB 05-21. Hy is bekend vir baie goeie bespiering en karkaskwaliteite. Dit kan mens klaar by die bul sien met veld kondisie! Kyk hoe prominent is die skilpadspier!

Hier is ’n bul wat perfek sal inskakel by enige kudde. Hy is ’n goeie medium raam bul en kan met gemak gebruik word om die hoog op die been koeie in jou kude af te bring. WAGB 09-54 is ’n puik vleisbul vir die meer geharde areas van die land.




LOT 35: HMB 09-107

LOT 35: HMB 09-107

    


Hier is ‘n diep donkerrooi bul met goeie kapasiteit wat baie vleis dra. Hy kom uit ‘n uitstekende moeder met ‘n TKP van 375 dae oor 8 kalwers. Die bul is aan moederskant geteel uit die bekende AG J8 lyn en aan vaderskant uit die bekende JRB H5 lyn. HMB 09-107 se ligaamsverhoudings is baie mooi in balans.

Goeie breedte,’n uitstekende skede en testis en mooi donker pigment op die hoewe is fenotipies opvallend van hierdie bul. Op teelwaarde kant is HMB 09-107 baie sterk op speen direk +6.1 en op speen maternal +11.2 wat dui op goeie melkproduksievermoë in sy nageslag.

Sy teelwaardes op twaalf en agtien maande is bo die rasgemiddeld. Tydens fase D toetsing het die bul baie goed gedoen, en is hy met ‘n indeks van 108 vir groeidoeltreffendheid (Kleiberverhouding) ver bo die groep se gemiddeld. Dit kan seker nooit genoeg beklemtoon word hoe belangrik die vermoë van diere is om onder ekstensiewe toestande doeltreffend te kan produseer nie – HMB 09-107 doen dit verseker!

HMB 09-107 is geteel in sanderige omgewing en behoort daarom baie goed in ‘n soortgelyke omgewing te doen. Hierdie bul kan ook met sy eie lae geboortegewig en lae teelwaardes vir geboorte, met vrymoedigheid op verse gebruik word.




LOT 36: TON 08-144

LOT 36: TON 08-144

    


TON 08-144 is geteel uit CSW 99-074 van oom Charles Williams van Vryburg wat jare lank al met Bonsmaras boer onder die naam Towton Bonsmaras en ook deel was van die bekende Bonsmara Genepoel.

Hierdie bul se moeder TON 03-002 verdien spesiale vermelding met die volgende reproduksiesyfers TKP van 371 dae, 6 uit 7 kalwers gespeen teen 101 en ‘n reproduksie-indeks van 108. Bul het uitstekende vel en haar met mooi verdonkering in die voorkwart. Naelvel, skede en skrotum is ook aanvaarbaar. Sy speen, 12 en 18 maande indekse was almal beter as 100 en dit word weerspieël in sy gebalanseerde teelwaardes met die meeste beter as rasgemiddeld.

TON 08-144 kan op verse sowel as koeie gebruik word en behoort ‘n bydrae te maak tot enige kommersiële kudde in die land.




LOT 37: ERH 09-105

LOT 37: ERH 09-105

    


Die bul is geteel uit HART 07-053 ‘n seun van BHE 02-074 (aangekoop by bekende Fortress Bonsmaras van Burkhard Hermann van Frankfort), kuddevaar, wat nog by Hartebeestloop Bonsmaras in die kudde gebruik word en ander seuns van BHE 02-074 word ook aangebied is op veiling.

Moer van ERH 09-105 is ERH 07-032 en sy het ‘n OEK van 29 maande en TKP van 382 dae. Die bul vertoon baie manlike eienskappe met ‘n sterk voorkwart en duidelike verdonkering. Wat baie be-indruk is sy toplyn. Die bul dra klomp vleis en het voldoende bespiering.

Met ligte geboortegewig van 33kg en geboorte direk teelwaarde van beter as rasgemiddeld kan hierdie bul definitief aanbeveel word vir gebruik op verse.




LOT 39: WCS 08-053

    


LOT 39: WCS 08-053


WCS 08-53 se eerste indruk is die fenominale kapasiteit van die bul. Hy het baie goeie lengte, uitstekende breedte, baie diepte deur die voorlyf, goeie sprong van rib en sterk bespiering. Die toplyn is reg, die kruishelling is goed en dit is net die stertwortel wat effe hoog aangeheg is. Die vleiseienskappe van die bul is seker van die beste in die bedryf – buite en binne dye is goed gevul, kyk hoe laag strek die spiere op die agterkwarte na die hakke, hy is vol vleis agter die blad, sy lende areas is goed gevul en so ook die duur vleisgedeelte bo die kruishelling. As jy die raamwerk met kapasiteit van die bul sien, sou jy sulke dik sopbene as bene verwag het. Kyk gerus na die uitstekende bene, kote en kloue van die bul. Nieteenstaande sy gewig, is sy loopvermoë in die duine van die beste. Sy veldbul ekonomiese indeks is 106 wat ‘n aanduiding is hoe goed hy onder ekstensiewe toestande aangepas en presteer het. Telers kan gerus na sy perfekte skrotum kyk – simmetries, hang mooi, baie glad en meet 37.3cm. Ek het lanklaas sulke kwaliteit vel en haar gesien.

WCS 08-53 se teelwaardes is baie goed. +1kg swaarder as rasgemiddeld op geboorte (dis minimaal), baie melk, goeie groei, aanvaarbare voerdoeltreffendheidsyfers en goeie reproduksie teelwaardes.

WCS 08-53 is gebruik as jong bul in die Hartebeestloop stoet. Behalwe vir sy uitstekende kwaliteite, veral vleiseienskappe, is hy ook geneties onverwant aan ons bestaande genetika. Hy behoort na ‘n ernstige stoetteler te gaan wat met selektiewe paring sy beste eienskappe in die kudde vestig. As jy raamgrootte met kapasiteit wil verbeter in jou kudde, melk wil vermeerder, skrotums reg teel of karkasopbrengs wil verbeter, is dit die bul vir jou! Op Hartebeestloop kan ons nie enige krediet neem vir die teel van die bul nie. Ons kan wel krediet neem vir die goeie oog om hom en sy ma op die veiling te “spot” en dan vas te byt met die prys!




LOT 40: HART 09-181

    


LOT 40: HART 09-181


HART 09-181 is in ons boeke ‘n effe groter raam (3,5) bul wat nog steeds op verse wat goed uitgegroei is op 24 mnde gebruik kan word en natuurlik fantasties sal doen op koeie. Hy vertoon baie goeie balans vir sy groter raam met voorkwart, middelkwart en agterkwart wat sterk aanmekaar gesit is. Kyk gerus hoe gemaklik hy loop as jy hom op Hartebeestloop gaan sien. Hy het goeie lengte, sterk toplyn, en deurgaans goeie breedte. Daar is goeie kapasiteit aanwesig, baie goeie vel en haar – kyk gerus na die dik velvoue in sy nek. Sy bespiering is sterk met oogspieroppervlakte wat paar keer groter as die rasgemiddeld is. Hy wys goeie manlikheid, mooi verdonkering, baie goeie aanpasbaarheid met sterk bene en goeie kloue. Hy is sommer ‘n bielie van ‘n bul!

Sy teelwaardes is uitstekend. Laer as rasgemiddeld op geboortedirek, baie melk, uitstekende groeisyfers met nog beter doeltreffendheidsyfers en top reproduksie waardes. Hy doen goed tydens die meting van alle ekonomies belangrike eienskappe en staan sterk tussen die veilingsbulle.

Gewoonlik is die groter raam diere nie so goed in balans nie en dit sukkel maar om groter raam funksionele doeltreffende diere te teel. HART 09-181 voldoen aan alle vereistes van funksioneel korrek, goeie teelwaardes, goeie groei, vrugbare moeder en uitstekende stamboom. Hy is ideaal vir speenkalf en osproduksie en sal moeilik deur enige ander bul geklop word. Hy behoort na ‘n boer te gaan wat graag spog met sy speenkalwers en osse. Skryf gerus sy nageslag in vir die speenkalf en slagos kompetisies. Sy teelwaarde vir karkasopbrengs is ‘n paar keer groter as die rasgemiddeld.




LOT 41: HART 09-186

    


LOT 41: HART 09-186

Die bul is geteel uit AG 03-353 wat nou by Tzaus Bonsmaras van Dries Venter is. Hy het uitstekend op Hartebeestloop gedoen en ons verwag dieselfde by Tzaus Bonsmaras. Die moer is VZF 05-103 wat op die RSA Bonsmara Nasionale veiling aangekoop is. Haar OEK is 32 maande en sy het TKP van 462 dae oor 3 kalwers met speenindeks van 105. Sy speen 3 kalwers teen 48% van haar liggaamsgewig en het 100% stoetgoedgekeuring van kalwers. Dit is baie tipies van die vroulike diere wat in die RSA aangekoop is – dit vat tyd totdat hulle in normale reproduksie kom. ‘n Seun van haar is by ons Omitara buurman Stephan de Wet.

HART 09-186 vertoon seker die beste vel en haar van alle veilingsbulle. Hy is seepglad en blink soos ‘n diamant in die son. Daar is goeie skofontwikkeling, sterk toplyn, goeie kruishelling en lang stert. Hy het besondere sterk bene met goeie kloue. Hy is breed regdeur, vertoon goeie hoogte/lengte verhouding van 1:18, diep deur die voorlyf en wys baie goeie kapasiteit. Goeie kapasiteit is dié een eienskap wat alle Namibiese Bonsmara telers hoog aanslaan. HART 09-186 vertoon uitstekende balans en die voor, middel en agterkwarte is baie goed aanmekaar gesit. Hy staan baie goed op sy bene en beweeg baie gemaklik. Die bul is propvol vleis – vol buite en binne dye, vol agter die blad, boudspiere is lank en heg laag aan op die hak. Kyk ook gerus na die “sambokhoue” op sy agterkwart – dit is ‘n term wat die ou mense gebruik het om uitstekende bevleesde agterkwarte te beskryf.

Sy skrotum is so perfek as kan kom – meet 38.3cm met teelwaarde van 16.2! Dit is perfek gevorm, hang baie mooi en is skoon sonder hare. As jy skrotums wil verbeter in jou kudde moet jy baie goed na die bul kyk. HART 09-186 vertoon baie goeie teelwaardes. Sy geboortedirek is ver onder rasgemiddeld, daar is genoeg melk, genoegsame groei en ‘n uitstekende skrotum teelwaarde. Hy doen goed tydens die prestasietoetsing met speenindeks 112, Veldbul indeks 100, GDT indeks 102 en Kleiber indeks 106.

HART 09-186 is ‘n tipiese voorbeeld van die “All Rounder” bulle wat ons teel op Hartebeestloop. Hy is vroegryp, mediumraam en sal goed doen op verse en koeie. Sy bespiering is oorgenoeg maar net meer soepel met minder spierdefinisie en daarom behoort hy nie kalfprobleme te gee nie. Hierdie tipe “no nonsense” bulle doen uitstekend waar ookal hulle gaan! Boere wat vleisopbrengs in hulle kuddes wil verbeter hoef nie verder as HART 09-186 te soek nie.




LOT 42: HART 09-194

    


LOT 42: HART 09-194

Hierdie bul is geteel uit WAT 04-339 en jy kan gerus kyk na die ander seuns van hom wat op die veiling is. Ons gebruik hom sterk in die kudde maar hy het ongelukkig ‘n besering hoog in die heup opgetel en ons is nou aangewese op Ki met sy semen. Van dat ons ‘n mobiele Ki karavaan ingerig het wat van pos tot pos gesleep word, het ons KI-sukses baie verbeter. Sy ma is BHE 01-029 wat met ‘n jong kalf in die winter by ons aangekom het. Sy het werklik gesukkel en het TKP van 431 dae oor 8 kalwers met RI van 103. Sy is net te oud om die dae wat sy verloor het noemenswaardig op te maak. Haar bouvorm, uier, spene en algemene kwaliteite is egter net te goed om haar te penaliseer op TKP alleenlik.

HART 09-194 is ‘n mediumraam “All Rounder” bul wat op verse en koeie gebruik kan word. Hy het baie goeie lengte met hoogte/lengte verhouding van 1: 26 wat baie beter as rasgemiddeld is. Sy toplyn is sterk – dit kan gedeeltelik toegeskryf word aan ‘n baie goed ontwikkelde oogspier wat se oppervlakte ver bo die rasgemiddeld is. Sy bespiering is nie so hard gedefinieër soos van die ander bulle nie maar hy vertoon oorgenoeg bespiering. Dit maak dit ook maklik om hom op verse te gebruik. Hy het goeie breedte, mooi diepte en goeie kapasiteit. Hy is veral sterk in die voorkwart.

Hy vertoon goeie manlikheidseienskappe met sterk kop en oogbanke, pragtige verdonkering van ‘n baie sterk nek en voorkwart en goeie skrotum wat simmetries hang. Sy skede kon effens korter gewees het maar die naelvel is baie goed. Ons is baie be-indruk met die bul se bene en kloue en sy loopvermoë. Ek kan nie die belangrikheid van sterk bene, goeie hakke en kloue genoeg beklemtoon vir ekstensiewe toestande nie. Kyk gerus ook na die bul se vleiseienskappe op die veiling – binne en buite dye is goed gevul, hy is vol vleis agter die blad met ‘n goeie agterkwart.

HART 09-194 se teelwaardes is baie goed gebalanseerd met geboortedirek wat onder rasgemiddeld is, goeie groei (hy speen 280kg), lae volwasse gewig, aanvaarbare doeltreffendheidsyfers en goeie reproduksie teelwaardes.

Hier is weereens ‘n tipiese Hartebeestloop bree spektrum bul wat op koeie en verse gebruik kan word en wat in enige produksiestelsel sal presteer. As die speenkalfpryse goed is, bemark HART 09-194 kalwers! As ospryse by Meatco goed is, laat loop HART 09-194 kalwers! Bemark sy verse as dragtige vervangingsverse vir ander kuddes en die kopers kom jaarliks terug na jou.




LOT 43: HART 09-232

    


LOT 43: HART 09-232

Hy is ‘n suiwer RSA teling met WCS 04-036 wat ons as koei met kalf op die uitverkoping veiling van Wally Stay aangekoop het. Sy pa is CEF 03-419 (Zinabos Bonsmaras) wat sterk deur wyle Wally in sy kudde gebruik is.

WCS 04-036 se OEK is 36 mnde, TKP oor 4 kalwers is 380 dae, met speenindeks van 107, RI van 102 en sy speen haar kalwers teen 51,4% van haar massa. Sy het baie goed aangepas op Hartebeestloop en haar kalf aan voet is weereens baie sterk. HART 09-232 is ‘n groter raamtipe (3.5) donker, rooi bul met goeie kwaliteite. Alhoewel sy raam effe goter is, is hy nog steeds in baie goeie balans. Daar is goeie breedte, baie goeie lengte (hoogte/lengte verhouding is 1: 27) sterk en mooi spierdefinisie met goeie kapasiteit. Vleiseienskappe is ook baie goed, met goeie agterkwart en genoeg vleis oor die kruis, lende en bladareas. Hy wys ‘n baie mooi kruishelling, sterk bene, mooi onderlyn en goeie kloue. Hierdie eienskappe is almal belangrik vir aanpasbaarheid – maklike kalwingseienskappe, goeie loopvermoë, skoon onder vir die duinsteekriet, driedorings en swarthaak en kloue wat hou in die sand en klip. Sy vel en haar is ook van baie goeie kwaliteit. HART 09-232 vertoon baie goeie manlikheid met sterk kop, goeie oogbanke en mooi verdonkering en goed gevormde skrotum. Daar is werklik min wat mens kan kritiseer in die bul.

Sy teelwaardes is ook goed gebalanseerd. Effens swaarder op geboortedirek – ek sal voorstel dat hy net op koeie gebruik word. Sy voor- en naspeense groeiteelwaardes is baie goed, met aanvaarbare voerdoeltreffenheid en reproduksie teelwaardes. Hy is ‘n Top Presteerder tydens prestasietoetsing met indekse van 111 speen, 117 GDT, Kleiber 103, Veldbul en pelvis 109. Oor-en-oor en deur-en-deur ‘n bul wat uitstekende groei onder ekstensiewe toestande in jou kudde sal bring.

HART 09-232 kan ‘n groot aanwins wees in enige produksiestelsel – osproduksie is soos ek hom aangeteken het maar, hy sal ook uitstekend doen in ‘n speenkalf stelsel. Sy raamtipe is definitief nie so groot dat hy nie vir die teel van kwaliteit vervangingsverse gebruik kan word nie.




LOT 44: HART 09-118

    


LOT 44: HART 09-118

Hy is geteel uit KHB 04-168 (Johan Myburgh, Kings Heath Bonsmaras) en HJB 04-015 (Benchmark Bonsmaras). KHB 04-168 is nou by Tollie van Tonder (Komaweer Bonsmaras) – dit is baie dieselfde tipe omgewing as Hartebeestloop en hy behoort goed te doen daar. HJB 04-015 se OEK is 30 mnde, TKP is 354 dae oor 6 kalwers met RI van 115. Sy het baie maklik aangepas in die Kalahari en haar reproduksie en produksie prestasies word jaarliks beter. Sy is ‘n top koei in die kudde.

HART 09-118 is ‘n tipiese mediumraam breë spektrum Hartebeestloop Bonsmara bul wat op verse en koeie gebruik kan word. Opvallend van die bul is sekerlik sy vleiseienskappe – hy is ‘n vol vleis bul!. Jy kan voor begin – daar is goeie breedte tussen die oë en hy vat dit reg deur tot by die goeie breedte tussen die sitbene. Sy buite en binne dye is propvol vleis, vol vleis agter die blaaie, kruis en lende areas is vol gepak met vleis en sy agterkwart in geheel is baie goed. Sy hoogte/lengte verhouding van 1:28 is van die beste in die ras. Hy het goeie lengte, goeie diepte deur die voorlyf en middelstuk, baie goeie bespiering, mooi sprong van rib en baie kapasiteit. Sy gemete oogspieroppervlakte is baie beter as die rasgemiddeld.

Hy is manlik, kop is sterk, oogbanke is goed en daar is mooi swart pigment in die gesig, nek is bespierd en goed verdonker en sy skrotum meet 36 cm. Hy vertoon baie goeie aanpasbaarheid met goeie vel en haar, sterk skofontwikkeling en sterk bene (breed oor die hakke) en goeie kloue.

HART 09-118 wys uitstekende teelwaardes - laag op geboortedirek, uitstekende voor- en naspeense groei, baie melk, uitstaande voerdoeltreffendheid teelwaardes, gebalanseerde liggaam mates en goeie reproduksie waardes. Sy prestasietoetsing wys sy top prestasies – Veldbul ekonomiese indeks (113), GDT indeks (117), Kleiber indeks (115) en pelvisindeks (102). HART 09-118 is eintlik ‘n ongelooflike sterk bul. Sy skrotumaanhegting is effens na regs geplaas en dit beteken dat sy skrotum minimaal gedraai is. Dit is die enigste rede waarom hy nie as potensiële stoetbul kwalifiseer nie. Hy sal egter uitstekend presteer in enige produksiestelsel by enige kommersiële boer en ‘n groot indruk op die kudde maak. Ek kan HART 09-118 met die grootste gerustheid aanbeveel.




LOT 45: WCS 08-110

    


LOT 45: WCS 08-110

Hierdie bul is suiwer Suid-Afrikaans geteel vanuit oorlede Wally Stay se stoet in die koue Oos-Kaap. Hy het as klein kalf saam met sy ma hier aangekom en moes bont staan om by te bly. Sy ma WCS 01-110 is egter ‘n uitstaande koei en speen hom op 102. Haar OEK is 35 mnde, TKP is 372 dae oor 8 kalwers met RI van 109 en 80% stoetgoedkeuring. Sy is nog steeds in die kudde – haar tande hou en haar laaste TKP was 353 dae! Met sulke koeie kan ek boer en hulle is die basis waarop die sukses van die Bonsmara gebou is. Ek sien gereeld sulke koeie by Bonsmara telers en ons voel almal dieselfde oor hulle waarde vir die kudde en die ras.

WCS 08-110 is ‘n mediumraam tipe bul wat gemaklik op verse en koeie gebruik kan word. Hy is seker een van die bulle met die beste kapasiteit wat ek in ‘n lang tyd gesien het. Sy hoogte/lengte verhouding is uitstekend op 1:23, hy is goed breed reg deur, wys goeie diepte en het genoegsame bespiering. Hy is propvol vleis – kyk gerus hoe lyk hy oor die rug. Die bul vertoon goeie sekondêre manlikheidseienskappe met aanvaarbare kop, goeie verdonkering en goeie skrotum wat goed gevorm is en mooi hang. Sy skede lyk goed en hy vertoon ‘n effe naelvel wat nog heel aanvaarbaar is. Wanneer jy waardebepaling doen van bulle, soos in die geval van WCS 08-110, is die totale prentjie so goed dat ‘n effense naelvel nie eers behoort genoem te word nie. Boere is egter soms baie puntenerig oor dit wat geskryf is en dit wat hulle sien in die kraal. Beter om maar te noem wat hinderlik mag wees.

Ons is be-indruk met die bul se baie goeie bene en kloue. Nieteenstaande sy gewig, beweeg hy gemaklik oor die duine en hou sy kote en kloue baie goed. Oor die algemeen is ons ook beindruk met sy aanpasbaarheid – vel en haar is goed, stert is lank, skof is goed ontwikkel en vel is dik (16mm). Hy sal op enige plaas, distrik of land presteer waar hy gaan. WCS 08-110 se teelwaardes is baie in lyn met dit wat ons op Hartebeestloop as aanvaarbaar beskou. Laer as rasgemiddeld op geboortedirek, genoeg melk, goeie groei met uitstekende voerdoeltreffendheidsyfers en aanvaarbaar op reproduksie. Hier is ‘n tipiese Hartebeestloop breë spektrum “All Rounder” bul wat met groot gerustheid gebruik kan word in enige produksiestelsel. Sy verse sal baie goeie melk hê, sy sopbeenkalwers behoort swaar te speen maar sy grootste waarde is heel moontlik in osproduksie of kruisteelprogram.




LOT 46: HART 09-012

    


LOT 46: HART 09-012

Hy is geteel uit KHB 05-172 wat nou by Roland en Thomas Horn van Terraro Zucht Bonsmaras is. Hy het baie goed gedoen op Hartebeestloop en ons glo dat hy die Khomas Hochland Bonsmara gemeenskap ‘n hupstoot gaan gee. Sy ma is HART 07-033 met OEK 22 mnde, TKP van 363 dae oor 4 kalwers, speen 3 teen 106 speenindeks met RI van 123. Sy speen 3 kalwers teen 44,7% van haar liggaamsmassa van 516kg. Op Hartebeestloop klassifiseer ons hierdie tipe koeie as die “hedendaagse tipe Bonsmara koeie”. Ons vroulike personeel praat van die “moderne tipe Bonsmara koeie”.

HART 07-033 is geteel uit BHE 02-074 en ek verwys in die katalogus na sy vroeg geslagsryp en vrugbare vroulike nageslag. HART 09-12 is ‘n mediumraam bul met uitstekende vleiseienskappe. Hy vertoon goeie lengte met hoogte/lengte verhouding van 1:20 wat beter as rasgemiddeld is. Nieteenstaande sy lengte is die toplyn baie sterk, daar is goeie breedte reg deur die bul met genoegsame diepte deur die voorlyf. Sy kapasiteit is baie goed en so ook die sprong van rib. Hy wys baie goeie bespiering met die oogspieroppervlakte baie groter as die rasgemiddeld. Jy kan duidelik ook die goeie bespiering van die bul sien by die voorarm en skilpadspier. Die bul se kop is sterk met goeie oogbanke en sterk, dik nek. Sy onderkaak kon sterker gewees het. Skrotum is goed gevorm, hang mooi en het 35,3cm gemeet. Sy aanpasbaarheid is regtig tops. Vel en haar is 100%, bene en kloue is uitstekend en daar is goeie skofontwikkeling. Die bul staan uit met sy karkaseienskappe – sy agterkwart is soos die prentjie wat Meatco aan boere wys as die ideaal. Sy boudspiere is lank en heg laag af. Hy is orals vol vleis – lende, oor die heupe en vol agter die blad.

HART 09-12 vertoon goeie teelwaardes. Hy is swaarder as rasgemiddeld op geboortedirek, melk is baie, groei is uitstaande en so ook voerdoeltreffendheid en reproduksie teelwaardes. Sy speenindeks (111), GDT indeks (100), Veldbul ekonomiese indeks (102) en pelvisindeks van 104 maak hom ‘n bul om mee rekening te hou.

Gebruik HART 09-12 liefs net op koeie. Sy breedte oor die bors, goeie bespiering en effe dikker been is nie geskik vir verse nie. Hy sal uitstekend vaar in enige speenkalf of osproduksie stelsel. Ek sal baie graag wil sien hoe hy doen in ‘n kruisteelprogram. Dit wat van belang is in die daarstelling van ‘n goed beplande kruisteelstelsel het hy in oorvloed. Kommersiële telers wat graag hul kuddes bietjie woema wil gee, moet hom sterk oorweeg!




LOT 48: HART 09-026

    


LOT 48: HART 09-026

Hy is geteel uit WAT 04-339 (Frikkie Kruger, Waterpaslaagte Bonsmaras) en HJB 01-582. Haar OEK is 36 mnde, TKP van 379 dae oor 8 kalwers en 80% stoetgoedkeuring van kalwers. Slegs 1 bulkalf ontwikkel artrose en word afgekeur. HJB 05-208 wat in 2008 die topverkoper op veiling was en nou deur Hochland Bonsmaras en Terraro Zucht Bonsmaras as stoetvaar gebruik word is ‘n seun van haar. ‘n Baie mooi stoetvers van haar is ook aan Jomar Bonsmaras (Johan van Rooyen) verkoop. Sy is nog steeds in die kudde en daar is nog 3 van haar bulkalwers in die pyplyn.

HART 09-26 is ‘n mediumraam “All Rounder” bul wat op beide verse en koeie gebruik kan word. Hy vertoon goeie lengte met hoogte/lengte verhouding 1:18 en genoegsame kapasiteit. Sy bespiering is genoegsaam, toplyn is sterk, bul is breed oor die rug, kruishelling is baie goed en daar is genoeg diepte deur die voorlyf. Sy aanpasbaarheidseienskappe is uitstekend – vel en haar is glansend, blink en hy is seepglad. Skofontwikkeling is goed, stert lekker lank vir die lastige vlieë, bene en kloue is sterk en sy onderlyn is mooi skoon. Sekondêre manlikheid is ook baie goed ontwikkel – kop is sterk, oë is wel effens oop, verdonkering is aanwesig in die nekgedeelte en skrotum is goed gevorm en hang perfek. Skrotum meet 36,5cm en teelwaarde is ‘n massiewe 18.2!

Sy teelwaardes is uitstaande met lae geboortedirek, baie goeie groei en hoë doeltreffendheid en top reproduksie teelwaardes. Jy soek mos niks meer in teelwaardes as dit wat hy het nie. Behalwe dat meeste individuele teelwaardes op hulle eie goed is, is die kombinasies ook baie goed gebalanseerd.

HART 09-26 is ‘n tipiese voorbeeld van ‘n Hartebeestloop breë spektrum bul. Dit beteken dat hy wyd aangewend kan word – op verse en koeie, vir speenkalf of osproduksie en ook om vervangingsverse te teel. Ons het nog net positiewe terugvoering oor hierdie breë spektrum tipe bulle ontvang. Ons was almal al in die posisie dat jy dringend ‘n bul vir jou verse soek omdat die ander bulle in die kudde nie op verse gebruik kan word nie. Dit is realiteit in Namibië dat boere die Bonsmara beskou as ‘n alles-in-een pakket maklike boerbees. Bulle soos HART 09-26 dra by tot hierdie beskouing deurdat hulle wyd oor die land in enige area gaan aanpas en goed presteer. Die boer gebruik hom dan ook soos die produksiestelsel(s) en mark op enige gegewe tyd bepaal.




LOT 49: HART 09-051

    


LOT 49: HART 09-051

Hy is geteel uit KHB 05-172 (Johan Myburgh, Kings Heath Bonsmaras, Vrystaat) en HART 07-043. KHB 05-172 is nou by Terraro Zucht Bonsmaras (Thomas en Roland Horn) en hy is ‘n robuuste, breë bul met uitstekende lengte, bespiering, kapasiteit en diepte. HART 07-043 is ‘n mooi koei met OEK van 23 mnde, TKP van 404 dae en RI van 123. As daar nou ‘n bewys is dat pelvismetings werk , is dit die geval hier. Sy het van die grootste pelvismates gehad van die mediumraam verse en kalf gemaklik sonder toesig in die veld op 23 mnde vanaf KHB 05-172. Hy is alles behalwe ‘n versbul!

Namibië is ‘n land waar speenkalwers sowel as osse bemark word. Ons is almal bewus van hoe die mark swaai na aanleiding van pryse wat betaal word deur die voerkrale en Meatco. Bonsmara telers moet ook bulle teel wat goed sal doen met osproduksie en wat in beplande kruisteel programme gebruik kan word. HART 09-51 is so ‘n tipe bul.

Hierdie is ‘n harde bul met goeie lengte, bespiering en genoegsame breedte. Sy toplyn is baie sterk, sy oogspieroppervlakte is bo die rasgemiddeld, daar is diepte deur die voorlyf, en ‘n sterk agterkwart. Sekondêre manlikheidseienskappe is baie goed met sterk kop, goeie oogbanke, mooi verdonkering en ‘n baie goed gevormde en geposisioneerde skrotum. Sy skrotum meet 37,7 cm. Sy aanpasbaarheidseienskappe is ook baie goed en ons is baie be-indruk met sy sterk bene en kloue. Hy dra sy gewig gemaklik, het goeie balans en uitstekende loopvermoë. Die wit vlek op sy voorkwart is ‘n geboortevlek maar die wit op die onderlyn kom van sy pa.

Sy teelwaardes is baie goed. Geboortedirek is ongeveer 1 kg bo rasgemiddeld, groei en melkeienskappe is baie goed, volwasse gewig is basies op rasgemiddeld en voerdoeltreffendheid is uitstekend. Liggaam mates is goed gebalanseerd en reproduksie teelwaardes is baie goed.

HART 09-51 moet liefs net op koeie gebruik word en hy sal uitstekend doen in ’n osproduksie stelsel – hetsy in suiwer Bonsmara osproduksie of in ‘n kruisteel program met ander rasse. Onthou jou resultaat van kruisteel is direk eweredig aan hoe goed die bul en koei is. Gebruik ‘n top Bonsmara osproduksie bul en kyk wat jy op die veld sien in die toekoms!




LOT 50: HART 09-060

    


LOT 50: HART 09-060

Die bul is geteel uit AG 04-175 en BHE 04-150. Sy is ‘n baie goeie koei met OEK 28 mnde, TKP van 366 dae oor 6 kalwers, 5 gespeen teen 46,5% van haar massa, RI van 116 en 100% stoetgoedkeuring van haar kalwers. Haar ma BHE 01-022 is ook nog in die kudde met TKP van 10 kalwers oor 378 dae. Hierdie is ‘n besondere goeie koeifamilie wat uitstekende bulle teel. BHE 04-150 se 1ste 2 bulkalwers is beide verkoop teen bogemiddelde pryse. Sy het nog net een vers geteel – sy produseer bulle! AG 04-175 het ‘n baie groot rol gespeel in die Hartebeestloop kudde en sy nageslag loop wyd in Namibië.

HART 09-60 is ‘n groter raam bul wat verkieslik net op koeie gebruik moet word. Hy het baie manlikheid in hom met ‘n sterk kop, goeie oogbanke, mooi verdonkering en ‘n skrotum wat baie mooi hang. Sy skrotumomtrek is 36,9 cm met ‘n teelwaarde van 15,9 wat baie beter as rasgemiddeld is. HART 09-60 wys ‘n sterk toplyn, mooi lengte, goeie balans vir ‘n groter raam bul, genoeg bespiering, genoeg diepte deur die voorlyf en ook genoegsame kapasiteit. Hy het baie goeie aanpasbaarheidseienskappe met blink vel en haar en genoeg skofontwikkeling. Sy stertkwas is deur die bosluise afgevreet en behoort in tyd weer terug te groei. Ek was be-indruk deur die aanpashaarheid en gehardheid van die bul wat op Dassiesfontein in baie moeilike omstandighede tog baie goed presteer het. Sy bene en kloue is van sy sterkste punte en nieteenstaande sy groter raam en swaarder gewig het hy baie maklik beweeg in die klip sonder probleme.

Sy teelwaardes is tipies dit van ‘n bul wat uitstekend sal doen in ‘n speenkalf en veral osproduksiestelsels. Hy is ‘n effe later ryp tipe wat baie goeie osse van die veld sal produseer. Sy geboortedirek is swaarder as rasgemiddeld en dit is een van die redes hoekom hy net op koeie gebruik moet word. Daar is genoegsame voor- en naspeense groei met goeie voerdoeltreffendheidsyfers en uitstekende reproduksie teelwaardes.

HART 09-60 moet primêr aangewend word vir die teel van osse. Hy het al die kwaliteite en ekonomiese belangrike eienskappe om sy merk te maak in enige kruisteel of suiwer osproduksie teling.




LOT 51: HART 09-066

    


LOT 51: HART 09-066

Hy is geteel uit AG 03-359 en CEF 99-004. Beide word nog steeds in die kudde gebruik. AG 03-359 teel baie sterk op Hartebeestloop – hy teel die tipe diere wat die mark soek en goed aanpas in die ekstensiewe toestande. CEF 99-004 (Zinabos Bonsmaras) se OEK is 31 mnde, TKP is 378 dae oor 11 kalwers, RI is 112 en sy speen 10 kalwers teen 47,3% van haar massa. Een van haar seuns (HART 05-022) is aan Pieter Scholtz (Guperas Bonsmaras) verkoop waar hy uitstekend teel.

HART 09-66 is ‘n mediumraam “All Rounder” bul wat op beide koeie en verse gebruik kan word. Hy vertoon goeie breedte en diepte met genoegsame kapasiteit. Sy bespiering is genoeg en so ook sy vleiseienskappe. Die toplyn is sterk, kruishelling is goed en die agterkwart is goed gevorm. Hy vertoon ‘n baie sterk voorkwart. Die sekondêre manlikheidseienskappe is ook goed ontwikkel met sterk kop en aanvaarbare oogbank ontwikkeling, mooi verdonkering in die nekgedeelte en groot, welgevormde skrotum wat baie mooi hang. Die skrotumomtrek is 40,4 cm. Sy onderlyn is ook goed met aanvaarbare skede/naelvel kombinasie. Die bul dra genoeg vleis maar sy binne en buite dye kan seker beter gevul gewees het.

Sy aanpasbaarheid is baie goed ontwikkel. Sy vel en haar is goed, skofontwikkeling is daar en die vel is lekker los en beweeglik – kyk veral na die dik velvoue in die nek. Sy bene en kloue is ook sterk en hy beweeg gemaklik. HART 09-66 het baie goeie teelwaardes – tipies wat ons verwag van ‘n mediumraam, “All Rounder” Hartebeestloop breë spektrum bul. Geboortedirek is laer as rasgemiddeld, daar is genoegsame groei en melk met aanvaarbare doeltreffenheid en reproduksie teelwaardes.

HART 09-66 kan goed gebruik word in enige produksiestelsel – as jy speenkalwers, osse of vervangingsverse wil teel, is hy ‘n bul om te oorweeg. Een van Hartebeestloop se belangrike teeldoelwitte is om ‘n “totale-pakket-maklike-Bonsmara boerbees” te teel. Dit beteken om ‘n dier te teel wat in alle produksiestelsels kan werk, op koeie en verse gebruik kan word, gehard is, aangepas is in ons omstandighede en soveel aanpasbaarheid het dat dit in enige ander omgewing kan gaan produseer en presteer. HART 09-66 voldoen aan bogenoemde vereistes.




LOT 52: HART 09-096

    


LOT 52: HART 09-096

Hy is geteel uit BHE 04-035 en GBS 07-001. BHE 04-035 is vanaf Fortress Bonsmaras aangekoop en GBS 07-001 is tydens die Hakplaas Bonsmara uitverkoping aangeskaf. Dit was altyd Hartebeestloop beleid om die beste jong vroulike diere op die totale uitverkopingveilings aan te koop. Ek en Dr Johannes Smith het die vroulike diere gaan uitsoek voor die veiling.

Ons het baie goeie nageslag aangekry van BHE 04-035 en Arthur de Villiers was nie verkeerd toe hy die bul aanbeveel het nie. GBS 07-001 se OEK is 25mnde, TKP 404 dae met gemiddelde speenindeks van 107 en RI van 118. HART 09-96 is ‘n mediumraam “All Rounder” bul wat op verse en koeie gebruik kan word. Hy is tipies ook ‘n breë spektrum bul wat vele aanwendings oor alle produksiestelsels sal hê. Ons het herhaalde kere gesien dat die boer wat primêr met skaap of wild boer, baie goed doen met bulle wat suksesvol vir verskillende produksiestelsels gebruik kan word. Die boer besluit dan self watter stelsel hy volg na aanleiding van die hoeveelheid reën, weiding beskibaar en pryse van osse (Meatco/slagters) en speenkalwers (voerkrale).

Die bul wys goeie lengte, diepte en genoegsame kapasiteit. Daar is genoeg bespiering met die oogspieroppervlakte wat bo rasgemiddeld meet. Die toplyn is sterk kruishelling is baie goed en hy het ‘n lang stert wat wys op goeie aanpassing. Die kwaliteit van sy vel en haar, skofontwikkeling, “happy lines”, sterk bene en kloue wys alles op baie goeie aanpasbaarheid. Hy vertoon ook baie goeie manlikheid met sterk kop, goeie oogbanke, mooi verdonkering in die voorkwart gedeelte en ‘n baie goeie skrotum van 37 cm in omtrek.

HART 09-96 het baie goeie teelwaardes - effens swaarder as rasgemiddeld op geboortedirek, uitstekende groeivermoë en baie goeie voerdoeltreffendheidsyfers en uitstaande reproduksie teelwaardes. Hy was deurgaans ‘n Top Presteerder met ‘n Veldbul ekonomiese indeks van 109, speenindeks 107, GDT indeks 119, Kleiber indeks 118 en pelvis indeks 105. As jy groei soek in jou kudde, hoef jy nie eers na die ander bulle te kyk nie – veral as jy groei soek onder ekstensiewe toestande met goeie aanpasbaarheid.

Hier is ‘n bul wat bewys het dat hy onder ekstensiewe toestande kan aanpas en presteer. Ek kan HART 09-96 aanbeveel om groei en aanpasbaarheid in kuddes te verbeter.




LOT 53: HART 09-126

    


LOT 53: HART 09-126

Hierdie bul is suiwer Suid-Afrikaans geteel uit Badeveen Bonsmaras van Dok en Dirk Badenhorst (HOT 06-037) op ‘n Vaalbos vers (VBB 06-225). Sy is ‘n fantastiese dier wat op 30 mnde kalf in die Kalahari en nou ‘n TKP het van 362 dae oor 3 kalwers. Haar gemiddelde speenindeks is 99 oor 3, sy speen teen gemiddeld 49.4 % van haar liggaamsgewig met ‘n RI van 111. Dit is uitstekende prestasies vir ‘n vers wat kom aanpas en die 1ste keer kalf in die harde Kalahari. Haar 1ste verskalf op Hartebeestloop kalf op 21 maande. Hierdie is ‘n besondere vrugbare lyn en HOT 06-037 is bekend vir die teel van uitsonderlike verse. Dit kan duidelik gesien word in sy kalftempo teelwaarde van 67 wat ver bo rasgemiddeld is. HART 09-126 is geneties onverwant aan meeste Namibiese kuddes.

HART 09-126 is ‘n mediumraam “All Rounder” bul wat op verse en koeie gebruik kan word. Sy bespiering is meer soepel en nie die harde gedefinieërde bespiering wat soms bydra tot kalfprobleme nie. Hy het genoegsame breedte, diepte deur die voorlyf en kapasiteit. Die toplyn is sterk met ‘n goeie kruishelling. Opvallend is die lengte van die bul en sy hoogte/lengte verhouding van 1:23 is ver beter as rasgemiddeld. Sy aanpasbaarheidseienskappe is goed ontwikkel met goeie vel en haar, mooi skof en aanvaarbare bene en kloue. Hy vertoon goeie verdonkering in die nek, goeie skrotum van 35.3cm maar die kop kon sterker gewees het.

Die bul se teelwaardes pas baie mooi in by die Hartebeestloop standaard. Laag op geboortedirek, voldoende melk en daarna baie goeie groei en doeltreffenheid. Daar is lengte wat meer vleis en gewig meebring en die skrotum teelwaarde is ook beter as rasgemiddeld. Sy groot skrotum teelwaarde (11) en pelvisindeks (113) sal maak dat hy vrugbare en “groot pelvis” vervangingsverse teel. Hy het op kuddegemiddeld presteer tydens ekstensiewe groeitoets en Veldbul toets.

HART 09-126 is ‘n tipiese “geen probleem” bul sonder enige onaangename verassings. Hy gaan nie kalfprobleme gee nie, gaan baie goeie groei en GDT in jou kudde bring en behoort baie mooi vervangingsverse te teel. Sy speenkalwers en osse (2-jaar) gaan op geen veiling of by Meatco terugstaan vir enige ander nie. Die sukses van die Bonsmara in Namibië se ekstensiewe boerdery toestande is gebou op hierdie tipe bulle!




LOT 54: HART 09-175

    


LOT 54: HART 09-175

Hy is geteel uit AG 04-175 wat weer uit AG 99-104 geteel is. In die 2012 Arcadia Nuus verwys Arthur na die rol wat AG 99-104 in hulle kudde gespeel het. Ons het al meer as 100 nageslag van AG 04-175 met gemiddelde geboortegewig van 35kg. Hy is baie sterk gebruik om 14 maande oue verse oop te maak en HART 09-175 kan presies ook daarvoor gebruik word. Die ma is HJB 04-071 wat op die Benchmark uitverkoping aangekoop is. Sy kalf op 29 mnde, TKP van 416 dae oor 3 kalwers, met RI van 108 en 100% goedkeuring van al haar kalwers. Ongelukkig moes ons haar slag na besering op plaas.

HART 09-175 het baie goeie kwaliteite. Hy is ‘n lang bul met hoogte/lengte verhouding van 1:20 wat bo rasgemiddeld is. Toplyn is sterk, oogspier strek mooi deur tot by skof, daar is goeie breedte, genoegsame bespiering en goeie kapasiteit aan die bul. Ons verkies om hierdie gladde (soepel bespiering) tipe bulle te gebruik op ons vroulike diere wat alreeds genoeg bespiering wys. Ons is baie suksesvol daarmee. Hy is baie manlik met sterk kop, goeie verdonkering en uitstekende skrotum. Dit meet 37,6cm, is seepglad, goed gevorm en hang perfek. Sy pa AG 04-175 is spesifiek aangekoop oor sy skrotum bydrae tot ons kudde. Hy teel konstant baie goeie en groot skrotums.

HART 09-175 het baie goeie teelwaardes. By ons is hy as spesialis versbul gemerk wat net so goed op koeie sal doen. Sy teelwaardes is laag op geboortedirek, genoeg melk, goeie groei en doeltreffendheid met uitstaande kalftempo. Hy presteer baie goed tydens die prestasietoetsing met Veldbul ekonomiese indeks, GDT indeks, Kleiber indeks en pelvisindeks almal bo die gemiddeld van 100. Sy pelvismeting van 24,6 cm² en pelvisindeks van 126 is van die grootste in die kudde. AG 04-175 het baie konstant groot pelvisse geteel in sy vroulike nageslag en ons het omtrent geen kalfprobleme gehad met sy verse met vroeë paring op 14 maande nie. Ons verwag dieselfde van HART 09-175.

Hier is ‘n “Hartebeestloop breë spektrum bul”! Die term kom uit my professionele agtergrond en is baseer op breë spektrum antibiotika wat omtrent vir alles werk! Hy kan op verse en koeie gebruik word, - vir speenkalf of osproduksie en ook om baie goeie vervangingsverse te teel. Hy sal inpas in enige produksiestelsel en is tipies ‘n bul wat in tye van bul nood (bulbesering, tydelik onvrugbaar ens) na enige trop vroulike diere geskuif gaan word sonder dat die boer waarde in boet. Daar is baie boere wat spesifiek vir sulke tipe bulle vra.




LOT 55: WCS 08-123

    


LOT 55: WCS 08-123

Hy is geteel uit ‘n Fortress bul BHE 00-085 wat David Cock, Cecil van der Merwe en oorlede Wally Stay saam gekoop het. Ons het uitstaande diere aangekoop op die boedelveiling van Wally Stay en die moer WCS 03-145 is so ‘n koei. Haar OEK is 34 mnde, TKP van 375 dae oor 6 kalwers met gemiddelde speenindeks van 104 en RI van 108. Sy speen 5 kalwers teen 49,6% van haar liggaamsmassa (488kg). Ek is baie beindruk met die koei aangesien sy uit yskoue Oos-Kaap na die Kalahari gekom het en uitstekend aangepas het. Haar laaste TKP op Hartebeestloop is 338 dae. Beter koeie as sy is moeilik bekombaar.

WCS 08-123 is geneties onverwant aan die res van die Hartebeestloop kudde en ook alle ander Namibiese kuddes. Hy is ‘n robuuste mediumraam bul wat uitstekende lengte vertoon. Sy hoogte/lengte verhouding is 1:24. Sy baie groot oogspieroppervlakte maak dat die toplyn sterk is nieteenstaande sy goeie lengte. Hy is breed reg deur en diep deur die voorlyf met baie goeie kapasiteit. Sy vleiseienskappe is onoortreflik – vol agter die blad, lende areas vol vleis. Kyk veral na hoe vol vleis hy is waar die kambene by die rugstring aansluit. Buite en binne dye is vol en boudspiere is laag op hakke aangeheg.

Sy sekondêre manlikheidseienskappe is goed ontwikkel met sterk kop, goeie oogbanke en baie mooi verdonkering in die nekarea. So ook is sy aanpasbaarheidseienskappe van baie hoë gehalte – vel en haar is glansend en blink, skofontwikkeling is goed. Kruishelling is mooi gevorm en stert is lank. Hy is goed breed oor die hakke en as ek iets kan noem sou dit die neiging wees na effe regop hakke. Dit is egter minimaal en beinvloed glad nie die bul se loopgang of funskie nie.

WCS 08-123 het baie goeie teelwaardes – laer as rasgemiddeld op geboortedirek, genoeg melk, goeie groei en uitstekende voerdoeltreffendheidswaardes. Hy het as jong kalf saam met sy ma in die Kalahari aangekom maar doen nogtans goed tydens die res van die prestasietoets metings.

WCS 08-123 val in die kategorie van bree spektrum “All Rounder” bulle. Hy kan op koeie en verse gebruik word en sal baie goeie speenkalwers en osse produseer. Sy teelwaarde vir melk is ook goed en sy vers nageslag behoort goeie melkeienskappe te hê. Die bul se groot waarde is in die verhoogde karkasopbrengs en uitslagpersentasie wat hy sal inbring in die kudde waarna hy gaan. Kommersiële boere benodig hierdie tipe bulle.




LOT 58: WAGB 09-135

LOT 58: WAGB 09-135

    


Die bul is ’n puik klipharde mediumraam bul. Hy toon goeie bespiering, diepte en kapasiteit. Hy het baie breedte oor die rug en toon baie vleis in sy agterkwart en voorkwart.

WAGB 09 - 135 het sterk bene en kloue en sal gemaklik in enige terein kan funksioneer. Die bul se wagb ontwikkeling is baie goed. Kyk maar na sy sterk skof, mooi verdonkering op sy nek, voorkwart en agterkwart. Die bul het ook ’n baie goeie sprong van rib wat toon dat hy voldoende kapasiteit vir sy eie onderhoud het. WAGB 09 - 135 se ma is uit die Kavango beesboerdery gekoop. Die ma doen nogsteeds baie goed by ons. Sy is tans 14 jaar oud en het ’n gemiddelde speenindeks van 109 oor haar kalwers en ’n reproduksieindeks van 99. Haar interkalf periode is 428 dae en toon bie goeie vrugbaarheid.

Die bul se pa is as stoetbul aan Christo Strydom verkoop. Die bul doen puik by hom en hou sy kondisie puik in die verskillende seisoene. Hierdie bul se teelwaardes toon dat hy met gemak op verse gebruik kan word. Hy gaan baie goed doen in die meeste dele in die land. Die bul toon tipiese mediumraam teelwaardes met goeie groei en vrugbaarheid. Kyk weer mooi na hierdie bul. Hy sal baie goed doen in enige kudde.




LOT 59: ERH 09-054

LOT 59: ERH 09-054

    


Hierdie bul is geteel uit kuddevaar ERH 05-091 (AG 01-051 seun) wat in die EMOK kudde gebruik is en moer ERH 00-029. ERH 00-029 is een van die ouer koeie in kudde met uitstekende reproduksiesyfers en het 8 uit 9 kalwers gespeen teen 99 en het ‘n uitsonderlike TKP van 368 dae met ‘n reproduksie-indeks van 114.

ERH 09-54 is ‘n effe groter raam bul met goeie balans, verdonkering in die voorkwart, voldoende skofontwikkeling en ‘n sterk agterkwart. Die bul is ligter van kleur met uitstekende vel en haar en sy mooi teelballe en skede is opvallend.

Die bul het baie goed gegroei tydens Fase D groeitoets met ‘n 113 GDT en 107 kleiberindeks en wat sy teelwaardes aanbetref is dit veral maternal maternal en skrotum teelwaardes wat bo die rasgemiddeld is. Die teelwaarde vir kalftempo van 56 is ook uitstekend.




LOT 60: TON 09-044

LOT 60: TON 09-044

    


Hierdie bul is die jongste van 5 bulle wat Komaweer Bonsmaras aanbied op veiling en moet definitief nie onderskat word nie. Die bul het van jongs af baie potensiaal getoon en sal ongeveer 3 jaar oud wees by veiling.

Sy vaar is die bekende BHE 02-074 (Fortress Bonsmaras) en sy moeder TON 99-039 het oor haar leeftyd van 11 jaar, 8 kalwers geproduseer waarvan almal gespeen is teen ‘n gemiddelde speenindeks van 102.

TON 09-44 se geboortegewig was 35 kg en sy geboorte direk teelwaarde dui daarop dat bul op verse gebruik kan word. Hierdie bul se lengte, diepte en besonderse goeie toplyn staan uit en dit word afgerond deur ‘n goed aangehegte skrotum en uitstekende skede.

Kyk weer na die bul en veral sy vel en haar sal ook be-indruk.




LOT 61: ERH 09-135

LOT 61: ERH 09-135

    


Nog ‘n LMR 05-092 seun wat EMOK Bonsmaras aanbied op veiling.

Bul se moeder het uitstekende reproduksiesyfers met ‘n TKP van 396 dae, 6 uit 7 kalwers gespeen teen 101 en reproduksie-indeks van 110. ERH 09-135 is ‘n groter raam bul met baie goei balans, lengte en sprong van rib. Bespiering in agterkwart is heeltemal voldoende en skrotum is goed aangeheg met ‘n gekorrigeerde skrotum omtrek van 40.1 cm en teelwaarde ver bo die rasgemiddeld.

Bul se sterk bene en donker kloue is veral opmerklik. Osprodusente moet ernstig kyk na die bul want sy fenotipiese eienskappe word ondersteun met teelwaardes vir 12 en 18 maande en volwasse gewig wat bo die rasgemiddeld is.




LOT 62: TON 08-185

LOT 62: TON 08-185

    


TON 08-185 kom ook uit dieselfde vaar as LOT 36 naamlik CSW 99-074 van Towton Bonsmaras. Hierdie bul se speengewig (246 kg) , speen (125), 12 maande (119) en 18 maande (111) indekse gekombineer met teelwaardes van bo die rasgemiddeld dui op goeie voor en naspeense groei en die bul kan definitief aanbeveel word vir speenkalf sowel as osproduksiestelsels. Moeder van bul naamlik TON 04-070 het ‘n TKP van 371 dae met 4 kalwers gespeen teen ‘n gemiddeld van 108 wat aanduiding is dat hierdie koei swaar speenkalwers produseer.

Bul se lengte en toplyn word gekomplimenteer met goed gedefinieerde bespiering en weereens het die bul ‘n uitstekende vel en haar wat een van Komaweer Bonsmaras se sterk punte is.

TON 08-185 moet slegs gebruik word op koeie en sal geen probleem hê om aan te pas waar hy ook al gaan.




LOT 63: ERH 09-152

LOT 63: ERH 09-152

    


ERH 09-152 kom ook uit LMR 05-092 van Paul Mare van Suid Afrika. Wat bouvorm aanbetref weeg hy goed op teen die ander 2 bulle uit dieselfde vaar wat ook deur Edward Hansen aangebied word op veiling.

Ma van bul is ERH 04-085 wat 7 jaar oud is en ‘n uitsonderlike TKP van 389 dae het.

Die bul het goeie toplyn, balans, lengte, middelstuk en bespiering en sy skrotum is goed aangeheg. Sy sterk bene, kloue en mooi vel en haar is opvallend en gee jou die indruk van ‘n klipharde bul. Hierdie bul behoort goed te vaar in enige kommersiële kudde in Namibië en moet nie misgekyk word nie!




LOT 64: TON 08-075

LOT 64: TON 08-075

    


Soos met 2011 veiling is daar weer ‘n seun uit TON 02-028 (geteel uit NGO 99-045 kuddevaar van Woestyn Bonsmaras) op die veiling.

By verlede jaar se veiling is TON 06-040 seun van NGO 02-028 verkoop vir N$ 70,000. TON 02-028 se nageslag loop op verskeie plase in Namibië en is in die Komaweer kudde gebruik vir aantal jare.

Soos met sy halfbroers is hierdie bul se uitstaande vel en haar dadelik opvallend. Hy het ook goeie lengte en sy skede, naelvel en skrotum is ook aanvaarbaar. Sy moeder TON 99-004 het ‘n merkwaardige 7 uit 9 kalwers gespeen teen gemiddeld 102. Die bul se teelwaardes is almal omtrent op rasgemiddeld en met sy geboorte gewig van 34 kg en negatiewe geboorte direk teelwaarde kan hy op verse sowel as koeie gebruik word.

Moet nie hierdie bul miskyk nie al kom hy laaste in op veilingsdag.



Facebook  Contact us | Copyright 2012, All rights reserved | Sitemap