Bonsmara Publications - Riglyne vir dekseisoen 2013
   Hartebeestloop

Articles

In this section of the website we feature ALL the articles written by HARTEBEESTLOOP BONSMARAS, mainly from our Bonsmara stud breeding program. In most of the articles we refer to what works for us at Hartebeestloop and how we do things in our Bonsmara stud. We also have articles done by other authors. If we can learn from you, we certainly will publish your work! This is a very comprehensive part of this website and we hope you enjoy reading and learning here!

CONTACT US: JOGGIE BRIEDENHANN +264 81 231 6169 (jbried@joggie.com.na)

Publication selected in the Archive of 2013:
Riglyne vir dekseisoen 2013
Date:
January 2013

Joggie Briedenhann
Hartebeestloop Bonsmaras

This article is also available in English:
Guidelines for Breeding season 2013


Beplanning is belangrik

Die jaar 2012 is verby. Ons kan niks meer daaraan doen of verander nie en moet die foute wat ons in die verlede gemaak het, agterlaat. Die nuwe 2013-dekseisoen lê voor, en nou is dit die tyd om te beplan en dinge reg te doen. Sommige boere se dekkings begin al so vroeg as middel Desember 2012 of begin Januarie 2013.

As vleisbeesboere moet ons doelwit die volgende wees:

  • Minstens ’n 90% plus kalfpersentasie
  • ’n Mikpunt van ’n 85% plus speenpersentasie

Gemiddelde Reënseisoen is voorspel

Hoe gaan ons dit bereik, gegewe dat ’n gemiddelde reënseisoen op hande is en jou weidingsbestuur optimaal is? Die volgende kriteria word dan baie belangrik.

'n Top dragtige vers wat aan al die vereistes voldoen

1. Selekteer streng vir koeikudde

Skot koeie uit soos volg:

  • Op tande en nie op ouderdom nie:
    Weidingtoestande verskil hemelsbreed oor Namibië en areas met harder weiding soos bv. Eragrostis pallens kan tande van diere makliker laat slyt. Hierdie diere word op jonger ouderdom uitgeskot. Bemark nou die uitskotkoeie en trek finansiële voordeel daaruit eerder as om te wag vir die volgende kalfseisoen wanneer die koeie te swak sal wees om kalwers ordentlik groot te maak.
  • Tussenkalfperiode (TKP) langer as 450 dae:
    Vroulike diere met ’n gemiddelde TKP van langer as 450 dae moet verkieslik uitgeskot word. Identifiseer jou koeie wat in die eerste maand en ’n half van die kalfseisoen kalf. Hulle is jou meer vrugbare koeie.
  • Koeie wat nie elke jaar ’n kalf speen nie:
    Seleksie vir koeie met goeie moedereienskappe wat elke jaar kalf en hul kalwers na speen kan deurvat, is van kardinale belang. Bonsmara-koeie se sterk punt is juis dat hulle ’n geweldige sterk moederdrang het om hul kalwers op te pas. Jy sal sien dat daar gewoonlik Bonsmara-moeders by die jong klomp agterbly om hulle teen gevare te beskerm.
  • Koeie wat kalwers minder as 45% van hul massa speen:
    Genoeg melk kan nie oorbeklemtoon word nie. ’n Koei moet haar kalf die optimale kans gee om goed uit te groei. Bly weg van dik, kalbastipe spene waaraan kalwers nie kan suip nie sowel as vlesige uiers wat nie baie melk hou nie. Te klein uiers is ook nie gewens nie. Seleksie op vroeë ouderdom (15 tot 18 maande) moet die probleemdiere uitwys. Jong vroulike diere moet goed ontwikkelde speenvorming toon.
  • Lang en wollerige hare (nie aangepas nie):
    Koeie met ’n lang, wollerige haarkleed is makliker vatbaar vir bosluiskolonies en kan nie baie hitte weerstaan nie. Daarenteen is ’n kort, glansende haarkleed ideaal vir bosluisbeheer en temperatuur regulering.
  • Temperament:
    Temperament is nie onderhandelbaar nie. Koeie met temperament probleme is gewoonlik ook dié met kondisie- en vrugbaarheidsprobleme. Die Bonsmara-ras selekteer streng vir diere met ’n kalm temperament.
  • Selekteer vir mediumraamkoeie van 450 tot 550 kg met ’n kondisiepunt van 3:
    Die mite bestaan dat mediumraamkoeie nie kalwers met ’n hoë speenmassa kan speen nie. Dit is onwaar. Mediumraamkoeie se onderhoudbehoeftes is soveel laer en kan hul kondisie ook beter hou, wat vrugbaarheid aanhelp. Die rumengrootte van mediumraamkoeie speel ’n groter rol ten opsigte van aanpasbaarheid en gehardheid as koeie van ’n groter raamtipe. Die kondisie van koeie of verse wat bul toe gaan, moet ’n kondisiepunt van 2,5 tot 3,5 hê (1 maer, 5 vet).

2. Vervangingsverse

Geneties behoort hierdie verse beter te wees as die meeste van die ouer koeie. Moet dus nie huiwer om meer verse te paar as wat jy nodig sal hê nie.

  • Gewig van verse ± 350 kg (18 maande tot 2 jaar):
    Vroulike diere wat op dié ouderdom nie die teikengewig bereik het nie, moet summier uitgeskot word.
  • Geslags-eg (vroulik):
    Kyk na goeie wigvorm en selekteer streng teen vetaanpakking by die brisketarea.
  • Goeie uier en speenontwikkeling:
    Dit kan op dié ouderdom duidelik gesien word.
  • Goed ontwikkelde geslagsorgaan:
    Te klein geslagsorgane (vulva) is ’n duidelike teken van min vroulikheid. Dit moet eerder duidelik sigbaar en goed ontwikkel wees.
  • Gesonde bene en kloue:
    Kyk by kloue na goeie hieldiepte van die klou en soek diere uit met sterk, donker, kort kloue. Verse moenie oormatig sekel- of koeihakkig by hul bene vertoon nie.
  • Gladde, kort, glansende hare :
    Net soos by die koeie en bulle geld ’n kort, glansende haarkleed ook vir verse vir goeie aanpassing, gehardheid en bosluisbeheer.

3. Bulle – voor die dekseisoen

  • Toets bulle vir vrugbaarheid en laat doen skedespoelings/ vir geslagsiektes deur ’n betroubare veearts. Die veearts moet ook die teelballe fisies en klinies ondersoek vir abnormaliteite en seker maak dat die peester ongehinderd uit die skede kom met 'n aanvaarbare lengte. As ’n paar boere van die omgewing dit saam laat doen, sal dit die koste per boer heelwat verlaag.
  • Kyk jaarliks na die tande van ouer bulle. Evalueer dus jou weidingomstandighede en tipe veld. Bepaal net soos by die koei die ouderdom van jou bul deur te evalueer op tande en nie soseer op ouderdom nie. ’n Bul wat nie meer sterk tande het nie, kan nie vreet nie en sal ook nie kan dek nie.
  • Bulle moet fiks wees en nie te vet nie (kondisiepunt van 3).
  • Gebruik genoeg bulle. Die norm is een bul op dertig koeie in ’n dekseisoen van negentig dae.
  • Jong bulle wat vir die eerste keer dek, moet dopgehou word vir dekbehendigheid en libido. Moet nooit aanvaar dat hy die werk sal kan doen as jy nie gesien het dat hy die werk doen nie.
  • Kyk gereeld tydens die dekseisoen dat bulle nie siek is of dat daar nie abnormaliteite op die teelballe is nie. Dit kan jou kalfpersentasie geweldig beïnvloed.

Beplan vroegtydig bulaankope vir 2013. Die bulfaktor in jou kudde moet nooit onderskat word nie.

Bulle vol lewe en libido!
Bulle vol lewe en libido!

Die Bonsmara-bul wat jy moet koop

  • Prestasie getoets (veldbultoets)
  • Vrugbaar en vry van geslagsiektes (veearts)
  • Goeie skrotumomvang van 34 tot 40 cm
  • Goedgekeur deur ’n senior keurder
  • ’n B-brand op die blad
  • DNA-vaderskap toets bevestig
  • Veldafgerond en nie te vet nie
  • ’n Vrugbare moeder met ’n reproduksie-indeks van meer as 90 en ’n TKP van onder 450 dae.

Hierdie bulle is vol lewe, selfs in die warm Kalahari son
Hierdie bulle is vol lewe, selfs in die warm Kalahari son

Comments:

{ comments… read them below or add one }
Leave a comment:
Register here if you are new
or
Login here
E-mail: 
Password: 

Forgot your Password?
Back to Top

Archive 2018
Archive 2016
Archive 2015
Archive 2014
Archive 2013
Archive 2012
Archive 2011
Archive 2010
Archive 2009
Archive 2008
Facebook  Contact us | Copyright 2012, All rights reserved | Sitemap