Hartebeestloop

Articles

In this section of the website we feature ALL the articles written by HARTEBEESTLOOP BONSMARAS, mainly from our Bonsmara stud breeding program. In most of the articles we refer to what works for us at Hartebeestloop and how we do things in our Bonsmara stud. We also have articles done by other authors. If we can learn from you, we certainly will publish your work! This is a very comprehensive part of this website and we hope you enjoy reading and learning here!

CONTACT US: JOGGIE BRIEDENHANN +264 81 231 6169 (jbried@joggie.com.na)

Publication selected in the Archive of 2011:
Hou aan selekteer vir vrugbare, hoog presterende koeikuddes
Date:
August 2011


Joggie Briedenhann
Hartebeestloop Bonsmaras

DOWNLOAD PDF:
Hou aan selekteer vir vrugbare, hoog presterende koeikuddes (473 Kb)

UITSTAANDE KOEIE PRODUSEER meer dikwels UITSTAANDE nageslaag. Dit is ‘n feit!

Die wakker boer en veewagter kan altyd spesifieke koeie uitwys in die troppe wat ’n goeie geskiedenis het van gereelde kalwing en die speen van ’n top kwaliteit kalf. Die boer en die veewagter ken hierdie koeie by die naam.

Hoe lekker sal dit nie wees as jy 90% en meer van jou koeikudde se “name” ken vanweë hul uitsonderlike vrugbaarheid en reproduksievermoëns nie?

Dis maklik om te sien dat die koei omgee vir die kalwers!
Dis maklik om te sien dat die koei omgee vir die kalwers!

IDENTIFISEER JOU TOP KOEIE

Dit is van groot belang vir die teler om die top-koeie te identifiseer en hulle in die kudde te behou. Hedendaagse bulkopersis deeglik ingelig oor die rol wat koeifamilies speel in die teel van hoë kwaliteit bulle.

Koeie wat nie na wense presteer nie

Bulkopers is met reg versigtig om ’n bul te koop wie se moeder ’n tussenkalfperiode (TKP) het wat die nasionale of rasgemiddeld ver oorskry. Hulle verstaan dat vrugbaarheid en reproduksie by die kwaliteite van ’n bul beïnvloed word deur die syfers van sy ma.

Ter verdediging kan uitgewys word dat daar egter soms goeie redes is waarom sekere koeie nie op gegewe stadiums na wense presteer nie. Dit kan enigiets wees soos siekte, beserings, nuwe omgewings met aanpassingstydperke of probleme met die bul wat nie betyds raakgesien is nie. Bulle kry soms seer, word siek of is tydelik onvrugbaar. ’n Swakker TKP is dus nie altyd primêr die koei se skuld nie.

Telersgenootskappe maak gelukkig voorsiening vir sulke gebeurlikhede met die daarstelling van minimum rasstandaarde. Dit is gewoonlik slegs ’n eenmalige gebeurtenis in die koei se reproduksiegeskiedenis en die effek daarvan verflou oor lang termyn.

Ons verduidelik graag die stelsel wat op Hartebeestloop gebruik word, naamlik om die koeikudde jaarliks te evalueer. Dit is oor jare ontwikkel en dit werk goed.

Jaarlikse evaluasie van die totale koeikudde

Die beste tyd om ’n koeikudde te evalueer is gewoonlik wanneer koeie ’n kalf van sowat drie maande het. Op dieselfde tyd kan die koei individueel geëvalueer word, ook haar vermoë om vir ’n kalf te sorg.

Om enige koeikudde te evalueer, is dit belangrik om presies te weet wat die spesifieke teelbeleid en teeldoelwitte van die teler is, sodat seleksie binne daardie raamwerk toegepas kan word.

Hulp van buite en ’n onafhanklike en objektiewe kundige wie se oordeel jy vertrou en wat jou kliënte se behoeftes verstaan, maak dit moontlik om groter duidelikheid tydens die seleksieproses te kry. Hartebeestloop maak jaarliks van so ’n kundige gebruik.

’n Praktiese wenk is om vooraf beide die koei en haar kalf met dieselfde nommer op die linkerboud te merk wanneer groot getalle vroulike diere geëvalueer word. Dit spaar baie tyd, vergemaklik die uitkeerwerk en verseker dat die regte koei en kalf saam geëvalueer word.

Op Hartebeestloop is elke stoetbul ’n spesifieke nommer toegedeel: bv. HART 06-58 is nommer 4 en elkeen van sy kalwers word ook met dié nommer op die regterboud gemerk.

Tydens die koeikudde-evaluasie kan jy dan ook ’n goeie idee kry oor die kwaliteit kalwers van die verskillende stoetbulle wat gebruik is.

Wat word jaarliks geëvalueer?

Vrugbaarheid en reproduksievermoë

Vrugbaarheid is die belangrikste ekonomiese eienskap in enige kudde. Dit is laag oorerflik en word beïnvloed deur heelwat faktore soos voeding en gesondheidstatus. Vrugbaarheid is as eienskap egter hoogs herhaalbaar.


Dit beteken dat daar tog suksesvol vir die “groepe van eienskappe” geselekteer kan word wat vrugbaarheid in die kudde verhoog. Vir enige moederlynras, soos byvoorbeeld die Bonsmara, is dit soveel belangriker om vrugbaarheid en reproduksievermoë as eerste prioriteit te stel. Daar is voldoende genetiese variasie tussen koeie om seleksie vir reproduksie sinvol te doen.

Tussenkalfperiode (TKP)
TKP is die algemeenste metode om vrugbaarheid in jou kudde te meet. Op Hartebeestloop word koeie se TKP’s gemeet teen die Namibiese nasionale gemiddeld (TKP’s van alle geregistreerde koeie van alle rasse), die Namibiese Bonsmara-rasgemiddeld en die Hartebeestloop-kuddegemiddeld.

Tabel 1 toon die TKP’s aan vir 2009/2010, soos verskaf deur die Namibiese Stoettelersvereniging en die Landbou Navorsingsraad (LNR) van die RSA.

TUSSENKALFPERIODE (DAE)

Namibiese
Stoettelersvereniging
Alle rasse
Bonsmara
Ras
Bonsmara
Hartebeestloop
445 411 398
Telers moet self besluit wat die teikenperiode vir TKP in hul kudde is en dan hul diere daarteen meet.
Die teiken TKP sal heel moontlik korter wees in ouer as in jonger kuddes weens die groter seleksiedruk oor jare en die groter getalle.
Op Hartebeestloop was die teikenperiode 398 dae tydens die koeikudde-evaluasie vir 2009/2010.
Die ideale TKP waarna gewerk word, is so na as moontlik aan 365 dae.

Wat is die teikenperiode om te gebruik vir ’n teler wat pas begin evalueer met betrekking tot vrugbaarheid en reproduksie? Ons stel voor dat hulle ’n teikenperiode stel vir die TKP tussen die laaste twee kalwers. Dit is immers ’n begin en penaliseer nie die koeie oor wat in die verlede gebeur het waar daar nie werklik vir vrugbaarheid en reproduksievermoë geselekteer is nie.

Ouderdom met eerste kalwing (OEK)

Op Hartebeestloop gebruik ons die ouderdom met eerste kalf as ’n aanduiding van:

  • ouderdom waarop puberteit bereik is – teikenouderdom is 14 maande
  • die massa waarteen puberteit bereik is – teikenmassa is 320 kg. Hierdie massa is sowat 66% van die ideale volwasse koeimassa (485 kg), wat op Hartebeestloop baie goed presteer
  • die groeivermoë van die dier om teen hierdie ouderdom (14 maande) sy teikengewig (320 kg) te bereik.

Op Hartebeestloop word die gemiddelde daaglikse toename (GDT) om bogenoemde te bereik, as volg bereken:

  • Gemiddelde versgeboortegewig = 35 kg
  • Gemiddelde speengewig van verskalwers op 205 dae = 237 kg (dit beteken voorspeense groei van 985 gram per dag)
  • Om ’n vers te kry wat op 14 maande ouderdom 320 kg weeg moet die naspeense groeivermoë dus 400 gram/ dag wees.

Bogenoemde syfers en groeipotensiaal is binne die raamwerk van die meeste rasse, mits die gesondheidstatus en voeding van die diere op standaard is. Na ons mening is hierdie ’n uitstekende metode om ook die groeivermoë van jou vroulike diere te evalueer tesame met vrugbaarheid en reproduksievermoë.

Dit is ’n voorbeeld van meereienskap- seleksie wat genetiese vordering versnel.
Daar is ’n wesenlike verskil in genetiese voortreflikheid vir vrugbaarheid tussen koeie wat op 28 maande vir die eerste keer kalf en daarna jaarliks op die kuddegemiddeld teenoor koeie wat die eerste keer op 39 maande kalf en daarna jaarliks op die kuddegemiddeld. Tydens die koeikudde- evaluasie vir 2009/2010 op Hartebeestloop was die teikenouderdom 28 maande vir eerste kalwing. Die ideaal is 26 maande.

Tabel 2 dui die ouderdom met eerste kalwing (OEK) aan soos verskaf deur die Namibiese Stoettelersvereniging en die LNR van RSA, vir die Namibiese Bonsmara en die Hartebeestloop gemiddelde OEK.

Ouderdom met eerste kalwing (maande)

Namibiese
Stoettelersvereniging
Alle rasse
Bonsmara
Ras
Bonsmara
Hartebeestloop
38 32 29
Telers bepaal self die teikenouderdom vir OEK en evalueer hul diere daarvolgens. Let daarop dat evaluasie vir TKP alle koeie in die kudde insluit, maar dat OEK slegs van toepassing is op eerstekalfverse.Dit is onsin om ouer koeie waarmee daar onder totaal verskillende bestuurspraktyke geboer is te penaliseer oor hul OEK van jare gelede. Dit is belangrik om te weet dat vrugbaarheid nie net die vermoë is om te kalf nie, maar ook om die maksimum aantal kalwers oor die koei se lewenstydperk te kry.

Streng seleksie vir vrugbaarheid en reproduksievermoë oor ’n tydperk van tien jaar het tot gevolg dat 31% van die Hartebeestloop- koeieop 39 maande reeds twee keer gekalf het.

’n Groep verse op 14 maande wat aan Hartebeestloop se standaarde voldoen.
’n Groep verse op 14 maande wat aan Hartebeestloop se standaarde voldoen.

’n Praktiese wenk as jy onseker is oor seleksie tussen vroulike diere met betrekking tot OEK is om na die skrotumgrootte van die bulle te kyk. Daar is ’n positiewe genetiese verwantskap tussen skrotumgrootte aan die een kant en vrugbaarheid en reproduksievermoë van vroulike diere aan die ander.

Wetenskaplike studies het die volgende gevind:

  • Daar is ’n positiewe korrelasie van 0,98 tussen agt verskillende rasse vir bulle se skrotum-omtrek en die ouderdom waarop die verse puberteit bereik het.
  • Bulle met skrotum-omtrekke wat die gemiddelde oorskry het, se dogters het 62 dae vroeër puberteit bereik as die bulle wat net gemiddelde skrotum-omtrekke gehad het se dogters.
  • Daar is ’n hoë positiewe korrelasie van 0,66 tussen skrotum- omtrek en die dragtigheidstatus van die vroulike nageslag.

Daar is kere dat alle seleksie-eienskappe ewe goed is en dan is dit in die hande van die teler om die finale besluit te neem. In sulke gevalle kies ons altyd die nageslag wat uit die bulle met groter skrotum-omtrekke kom.

Tussenkalfperiode tussen 1ste en 2de kalf

In enige koeiboerdery is die vermoë om die TKP tussen die 1ste en 2de kalf suksesvol te bestuur van groot belang. Tydens hierdie periode evalueer ons die dier se vermoë om gou ná kalwing weer op hitte te kom, met gepaardgaande vinnige herbesetting en haar vermoë om kondisie te behou of te verbeter onder veldtoestande.

Dit is ’n moeilike tyd vir die koei, want sy is nog besig om te groei, het ’n kalf wat aan haar suip en dan moet sy boonop herbeset raak. ’n Koei sal nie in estrus gaan as haar kondisie en voedingstatus nie na wense is nie.

Telers moet weer eens gelei word deur wat die standaard in die mark is en moet self die TKP tussen 1ste en 2de kalf bepaal wat as teiken-TKP in hul seleksie gebruik word.

Tabel 3 wys die rasgemiddelde TKP tussen die 1ste en 2de kalf vir die Bonsmara en die Hartebeestloop-kudde.

TKP 1-2 : Tussenkalfperiode tussen kalf 1 en 2
(Dae)

Bonsmara
Ras
Bonsmara
Hartebeestloop
443 414

Met die afgelope goeie reënjare het ons 412 dae as teiken- TKP tussen 1ste en 2de kalwing vir seleksie gebruik. Weer eens is die TKP tussen 1ste en 2de kalwing ’n seleksiemaatstaf wat jaarliks net op die spesifieke groep diere gebruik kan word.

Ouer koeie in die kudde kan nie nou geëvalueer word op hierdie teiken-TKP nie, aangesien bestuursomstandighede nie dieselfde was as nou nie. Die Hartebeestloop-ideaalis om 400 dae teiken-TKP tussen 1ste en 2de kalwing te behaal.

Moedereienskappe en prestasie van nageslag

Koeie moet nie net vrugbaar wees en kalf nie. Hulle moet ook goeie kalwers grootmaak wat gesog is in die mark.

Nie alle “mooi” koeie voldoen aan die vrugbaarheid- en reproduksienorme soos uiteengesit word nie. Net so voldoen nie alle vrugbare koeie aan die kriteria wat daargestel daargestel word vir goeie moeders wat uitstekende speenkalwers grootmaak nie.

Ons het almal koeie wat jaarliks kalf, maar daar is niks aan die speenkalf nie. Hierdie tipe koeie is nie geneties voortreflik nie en moet plek maak vir beter koeie.

Hierdie eienskappe van koeie kan slegs gemeet word as daar ’n jaarlikse evaluasie van die koeikudde is. Dit gee jou die geleentheid om koeie se prestasies oor ’n lang tydperk te volg. Telers sal opmerk dat van die koeie se dogters dieselfde voortreflike moedereienskappe wys en sodoende kan uitstaande koeifamilies geïdentifiseer word. Onthou dat herhaalbaarheid van vrugbaarheid hoër blyk te wees as die erfbaarheid van vrugbaarheid.

`n Koeikudde om van te droom
`n Koeikudde om van te droom
Gemiddelde speenindeks

’n Groep kalwers wat saam in een groep grootgeword het se gewig by speen (spesifieke ouderdom) bepaal die betrokke kalf se speenindeks. ’n Speenindeks van 100 is dus die gemiddelde speengewig van die groep kalwers, bv. 230 kg. Enige gewig swaarder as 230 kg sal ’n hoër speenindeks tot gevolg hê en omgekeerd.
Speengewig het twee genetiese komponente – die kalf se genetiese vermoë om te groei en sy ma se moedereienskappe wat hoofsaaklik melkproduksie is. Dit is belangrik om te weet dat die maternale (melk) vermoë geneties is vir die koei en ’n eienskap wat ons in seleksie wil sien.

Koeie wat konstant kalwers speen teen ’n speenindeks van 100 of beter is geneties voortreflik ten opsigte van haar maternale (moeder) eienskappe. Hulle moet in die kudde gehou word. Stoettelers behou nie koeievir altyd in een teelgroep nie. Koeie word verskuif tussen koeitroppe en gepaar met verskillende bulle. Geneties voortreflike koeie handhaaf ’n goeie speenindeks ongeag teen watter ander koeie op die plaas hulle gemeet word. Dit is waar, mits die bestuursomstandighede presies dieselfde vir alle koeie is. Telers moet self besluit wat die afsny speenindeks vir die kudde is.

Goeie raad is om die gemiddelde speenindeks van die koei oor ’n paar kalwers te evalueer en dan ’n besluit te neem. Op Hartebeestloop word koeiegeëvalueer wanneer drie kalwers gespeen is.

Speengewig as persentasie van koeigewig

Daar lê meriete daarin om te boer vir maksimum produksie/ ha en dit te gebruik om te meet of jy optimaal boer. In die seleksie van ’n vrugbare, hoogs reproduserende koeikudde is die prestasie per dier van groot belang. Speengewig alleen is nie ’n betroubare metode om die waarde van die koei te bepaal nie.

Op Hartebeestloop is ons nog nie oortuig dat die huidige teelwaarde vir koeiwinsindeks akkuraat genoeg is om as seleksie-kriterium te gebruik nie. Die speengewig van die kalf as persentasie van die koei se gewig op 205 dae is ’n baie bruikbare seleksie hulpmiddel om die ekonomiese doeltreffendheid van die koei te evalueer.

Ongelukkig bevoordeel die berekening die ligter koeie, maar op Hartebeestloop weet ons dat die ideale koeigewig tussen 485 en 500 kg is. Telers weet wat die ideale koeigewigte vir hul omgewing is en moet dit as maatstaf gebruik om te kompenseer vir die voordeel wat ligter koeie het.

Tabel 4 wys die persentasies vir die RSA Bonsmara, Namibiese Bonsmara en Hartebeestloop Bonsmara.

Speengewig verhouding (%)

Bonsmara
Ras
Bonsmara
Namibië
Bonsmara
Hartebeestloop
44.1% 44.4% 46.6%
Die teiken-persentasie vir die 2009/2010 evaluasie was 46% en die ideale persentasie waarna ons streef is 50% vir ’n koeimassa van 485 kg. Daar is heelwat ander seleksie-kriteria en -indekse wat ook gebruik kan word om die ekonomiese doeltreffendheid van koeie te meet.



Wanneer jy aan die einde van hierdie fase van seleksie kom, is die volgende koeie geselekteer:

  • Hulle is vrugbaar
  • Hulle het ’n beter reproduksievermoë
  • Hulle speen gemiddelde na bo-gemiddelde kalwers
  • Hulle vertoon hoë koeidoeltreffendheid

Funksionele doeltreffendheid en aanpasbaarheid

Dit is so dat sommige funksioneel korrekte koeie wat goeie aanpasbaarheid wys, nie noodwendig vrugbaar en hoogs reproduserend is nie. So ook is die produksie-eienskappe van die nageslag wat voorspeense groei insluit baie keer nie na wense nie. Daarom word seleksie gedoen op vrugbaarheid, reproduksievermoë en produksiepotensiaal voordat funksionele doeltreffendheid en aanpasbaarheid geëvalueer word.

Deur te selekteer vir vrugbaarheid en reproduksievermoë, selekteer jy indirek ook vir funksionele doeltreffendheid en aanpasbaarheid.

Die minimum rasstandaarde, soos deur die onderskeie rasgenootskappe onderskryf word, is ’n goeie riglyn in die seleksie vir funksionele doeltreffendheid en aanpasbaarheid.

Telers is soms baie streng op sekere aspekte van funksionele doeltreffendheid, afhangende van wat hul kuddeprofiele uitwys. So byvoorbeeld kan ’n teler baie sterk diskrimineer teen naelvelle of uitermate lang skedes, as die twee eienskappe reeds negatief in sy kudde is.
Jarelange seleksie vir ’n vrugbare, hoog reproduserende kudde het ons geleer dat daar koeie is wat buite die algemene raamwerk van aanpasbaarheid val. Hulle is wel baie vrugbaar, hoogs reproduserend en produserend.

Op Hartebeestloop is daar koeie met swakkerige haarkwaliteit wat ná tien jaar se seleksie nog steeds in die kudde is.

Raamgrootte van koeie is nog ’n aspek waarmee sommige telers sukkel. Hulle is geneig om op ’n spesifieke raamgrootte en volwasse koeimassa te besluit. Daar is goeie koeie wat wel ’n groter raamtipe het, maar dit is wenslik dat die omgewing sal dikteer wat die regte raamgrootte en volwasse koeimassa moet wees.

Solank die koei aan jou seleksie-kriteria vir vrugbaarheid, reproduksievermoë en produksiepotensiaal voldoen, behoort sy ’n plek in die kudde te hê. Hierdie tipe koei is dikwels verantwoordelik daarvoor om met haar nageslag variasie in die tipe diere binne die ras in te bring. In Namibië, waar verskeie produksiestelsels gebruik word, is variasie in tipe binne ’n ras belangrik en noodsaaklik. Dit beteken dat bulle binne die ras geteel moet word vir gebruik as “all rounders”, terminale kruisteelbulle, osproduksiebulle, bulle om vervangingsverse te teel of bulle vir speenkalfproduksie.

Algemeen

Volgens Danie Bosman (persoonlike mededeling, 2010) het die Mara Bonsmara-staatkudde onder sy bestuur slegs 16% van die verskalwers wat ná ses jaar gebore is, nog in die kudde gehad.

Wees gewaarsku, uiters streng seleksie op ’n jaarlikse grondslag het groot erosie in jou koeikudde tot gevolg.

Tabel 5 wys die persentasie verse, gebore vanaf 2005 tot 2009, wat nog in die Hartebeestloop-kudde is.

Geboortejaar

% Nog in kudde
2005 30%
2006 19%
2007 28%
2008 24%
2009 41%
Ons ondervinding is as ’n sesjarige koei met vier kalwers nog in die kudde is, sy heel moontlik daar sal bly tot en met uitskot weens ouderdom of gebrek aan tande.
Telers kan gerus hul koeikuddes toets aan die Hartebeestloopdata om te sien of dieselfde tendense daar aanwesig is.
Stoettelers van alle rasse gee die kommersiële boer en die vleisbeesindustrie in die algemeen ’n groot hupstoot as hulle met teling en bestuur diere met beter vrugbaarheid en hoë reproduksiepotensiaal aan die mark beskikbaar stel. Sou telers die Hartebeestloop-stelsel gebruik met aanpassings soos nodig vir hul spesifieke omstandighede, behoort die “boerderywaarde” van hul koeikudde merkwaardig te verbeter.

Ek sluit graag af met die wyse woorde van William A. Foster :

“Quality is never an accident - it is always the result of high intention,
sincere effort, intelligent direction and skillful execution;
it represents the wise choice of many alternatives.”

Comments:

{ 0 comments… read them below or add one }
Leave a comment:
Register here if you are new
or
Login here
E-mail: 
Password: 

Forgot your Password?
Back to Top

Archive 2023
Archive 2022
Archive 2021
Archive 2020
Archive 2019
Archive 2018
Archive 2016
Archive 2015
Archive 2014
Archive 2013
Archive 2012
Archive 2011
Archive 2010
Archive 2009
Archive 2008
Facebook  Contact us | Copyright 2012, All rights reserved | Sitemap